Openbaring Hoofstuk 20 [video]
top of page

Openbaring Hoofstuk 20 [video]


DIE EINDE VAN DIE EINDTYD BREEK AAN

In 20:1-6 word Satan vir 1 000 jaar gebind. Dit gebeur met Christus se hemelvaart wat in hoofstuk 5 en 12 prominent beskryf word. In hoofstuk 12 het ons met name verneem hoe die draak uit die hemel gegooi is. Behalwe vir ʼn vlugtige verskyning in hoofstuk 16, is hy vir die res van Openbaring weg van die aksie af. Die rede word nou eers met ons gedeel. Die draak was naamlik in God se oë gebind (let wel, nie vanuit mense se perspektief nie). As nabootser van die drie-enige God het die draak, direk na sy verbanning uit die hemel, twee diere opgerig om Christus en die Gees se werk valslik na te boots terwyl hyself as nabootser van God sou optree. In reaksie op sy arrogansie het ʼn engel toe aan die draak sy troon gegee, maar wel in die onderwêreld waar hy deur hierdie einste engel opgesluit is terwyl die simboliese 1 000 jaar van vrede afspeel in die hemel, as die volkome getal wat Christus se hemelse heerskappy in die eindtyd aandui (vers 1-3; 7). Johannes sien gedurende hierdie tyd al martelare in die hemel wat doodgemaak is vanweë hulle belydenis dat Jesus die Here is en hulle getrouheid aan God se woord. Hulle het die hoogste prys betaal op aarde, waar die 1 260 dae van swaarkry intussen afspeel, omdat hulle geweier het om die merk van die dier te aanvaar. Hierdie gelowiges regeer vir die volle 1 000 jaar, oftewel, die vasgestelde tyd tussen die hemelvaart en wederkoms saam met Christus. Hierdie vrederyk in die hemel is die eerste opstanding vir almal wat ná hulle dood reeds by Jesus is. Ongelowiges is totaal en al afwesig hier (vandaar die opmerking in vers 5 dat hulle nie vir hierdie 1 000 jaar lewend is nie). Die tweede dood, oftewel, die eindoordeel wat net hierna aanbreek op aarde, het boonop geen mag oor Jesus se mense nie.

Hoe beskryf die volgende gedeeltes Jesus se oorwinning oor die Bose: Matteus 12:29; Johannes 12:31-32 en Kolossense 2:14-15?

In 20:7-10 hoor ons dat die Satan losgelaat word net om weer vernietig te word. Die res van sy trio is reeds verslaan. Daarom is dit logies dat hy nou uit sy onderaardse huisarres moet kom ten einde God se naakte krag te toets. Eie aan sy totaal korrupte aard, gryp die duiwel hierdie kans nogmaals aan om die nasies, oftewel die Gog en Magog wat uit Esegiël 38-39 bekend is, bymekaar te maak. Hulle dien as ʼn simboliese aanduiding vir al die goddelose volke. Wanneer God se geliefdes tydens die laaste oorlog op aarde omring word, tref hemelse vuur hulle. Satan word ook hardhandig in sy ewige bestemming gegooi, naamlik die vuurpoel.

Die eindoordeel breek aan in vers 11-15. God Self is sigbaar op sy troon, maar wel as Regter. Die hemelse boeke word ook oopgemaak waarin al die dade of werke van klein en groot geskryf staan, asook een boek waarin net name opgeskryf staan. Laasgenoemde is die boek van die lewe waarin al die name staan van diegene wat die Lam as Here ken en bely. Dit is diegene op wie se voorkoppe die Naam van God en Christus ook gegraveer is. Die finale uitslag van God se oordeel volg hierna. Ewige verdoemenis, oftewel die tweede dood, wag op diegene wie se bose werke in God se boeke opgeteken is, teenoor ewige burgerskap van sy nuwe stad op sy splinternuwe aarde vir almal wat Hy op die naam ken.

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


bottom of page