Openbaring hoofstuk 4 [video]

August 21, 2018

 

OP BESOEK AAN DIE BEHEERSENTRUM VAN DIE HEELAL

Om enige deur te kan oopsluit, benodig ons die regte sleutel. Dit geld ook wat Openbaring betref. Om Johannes se visioene te begryp, moet ons weet vanuit watter invalshoeke hy dit verstaan en ook hoe hy dit kunstig in beeldryke verhaalvorm verpak. Met name gebruik Johannes beeldspraak om oor onsienlike Goddelike werklikhede te praat (wat nie letterlik opgeneem moet word nie). Ook beweeg die visioene afwisselend tussen die hemel (as God se troonsaal) en die aarde (as tydelike woonplek van gelowiges en plek van stryd en lyding), asook tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms (as die eindtyd of die laaste dae hier op aarde). Johannes doen dit omdat sy primêre fokus op God se heerskappy is, nie op toekomsvoorspellings wat die lesers van Openbaring se nuuskierigheid oor die laaste dae hier op aarde moet bevredig, of geheime data aan hulle moet verskaf om die datum van die einde te bereken nie.

Gelowiges se ware identiteit kan gevind word in God se wêreld, daar waar Hy op sy troon sit (vgl. 4:9; 5:1, 7, 13; 6:16; 7:15; 21:5). Daarom word Johannes vir ʼn wyle in Openbaring 4:1 deur die Gees oorgenooi na die beheersentrum van die heelal om die ware feite te bekom oor Wie in beheer is. Ook moet hyself die feestelike gebeure rondom Christus se aankoms in die hemel en sy heerskappy eerstehands beleef. Derhalwe vertel Johannes sy visioene vanuit hierdie oorwinnende perspektief. God se heerskappy, saam met die Lam (Christus) wat sy eie lewe opgeoffer het om al die magte te verslaan, vorm die teologiese swaartepunt in Openbaring vanwaar die ganse geskiedenis, asook gelowiges se posisie te midde van teenstand, verstaan word. Rome se vergieting van die bloed van Christus se getuies hier op aarde (vgl. Openbaring 11), het nie die laaste sê nie. Al maak mense Christene dood, en al sê Romeinse filosowe soos Tasitus (Annale 15,44,3) dat Christene ʼn veragte klas mense is vanweë hulle vreemde geloof en gedrag, beleef hulle in en deur Johannes se visioene dat hulle lewens in God veilig is. Al sy vyande, insluitend die Sataniese magte, se lot is klaar beseël. Die tweede dood wag op hulle.

Hoe maak Johannes dit duidelik dat ons nie sy simbole letterlik moet verstaan nie in 1:16 en 20, asook in 5:6; 5:8 of in 7:4 en 9?

IN DIE HEMELSE TROONSAAL (OPENBARING 4-5)

a. ʼn “Wie’s wie” in die hemel

Ter inleiding, Bauckham (The Theology of the Book of Revelation. Cambridge: Cambridge University Press. 1999) en Murphy (Revelation (“The Apocalypse of Saint John the Divine”), in Vanhoozer, K. J. (ed) Theological Interpretation of the New Testament. A Book by Book Survey. Grand Rapids: Baker Academic. 2008) noem dat Openbaring die boek in die Nuwe Testament is wat die meeste klem op die Triniteit of drie-eenheid van God plaas. In die eerste selfbekendstelling van God in Openbaring1:4b-5 verneem ons dat Hy die Een is wat is, was en weer kom (vgl. ook 1:8; 4:8; 11:17; 16:5). Ook hoor ons van die sewe Geeste voor sy troon (3:1; 4:5; 5:6), en van Jesus Christus wat die Getroue Getuie en Eersgeborene is (oftewel die heel belangrikste Een) wat opgestaan het uit die dood en die Heerser oor alle konings op aarde is. Net hierna verneem ons dat God die Alfa en die Omega is (1:8) met Christus as die Eerste en die Laaste (1:17). In Openbaring 21:6 is God nogmaals die Alfa en Omega, die Begin en Einde, terwyl Christus in 22:13 op sy beurt ook die Alfa en Omega, die Eerste en die Laaste, sowel as die Begin en die Einde is. Hierdie identiese aanduidings vir God en Christus, wat sewe keer deur die loop van Openbaring voorkom, dui op die drie-enige God se ewige heerskappy en alleenbeheer oor die skepping (Jes. 44:6; 48:12). Ook hoor ons dat God vyf maal “Here, God die Almagtige” genoem word (1:8; 4:8; 11:17; 15:3; 16:7; 19:6; 21:22), en twee maal “God, die Almagtige (16:14; 19:15), wat sy absolute heerskappy nogmaals onderstreep. Wanneer Johannes homself dus vanaf 4:1 as gas van die Gees in die hemelse troonsaal bevind, is hy op die ewige God se eksklusiewe, heilige terrein vanwaar Hy oor die heelal heers. Met name sit God rustig op sy troon (4:2-3). Sy heerskappy is so stabiel en stewig dat daar geen rondskarrelende hemelse werkers of raadgewers is met noodplanne en krisisse wat aandag moet kry nie.

Anders as Johannes se gedetailleerde beskrywing van Christus toe Hy op Patmos aan hom verskyn het (1:12-16), word God se voorkoms in 4:3 net in terme van kosbare, veelkleurige edelgesteentes beskryf. Die Gees word as die sewe Geeste van God beskryf (4:5), wat sy unieke Godheid onderstreep. Ook volg ʼn bekendstelling van ander bewoners van die hemelse hofhouding, naamlik 24 ouderlinge en vier lewende wesens (4:4-7). Die ouderlinge of presbuters, wat bekend is in die res van die Nuwe Testament as leiersfigure in die vroeg-kerklike gemeentes, is nie engele nie. Hulle is verteenwoordigend van die twaalf stamme van die Ou Testament en die twaalf apostels van die Nuwe Testament. Anders gestel, hulle is die verloste volk van God wat reeds in sy hemelse teenwoordigheid is (soos wat hulle wit klere en krone simboliseer). Die vier lewende wesens herinner sterk aan die gerubs of wesens van Esegiël 1:5-14, asook aan die serafs van Jesaja 6. Bes moontlik dui hulle op die skepping wat in die hemel by God verteenwoordig word.

Watter funksies vervul die 24 ouderlinge in 4:10; 5:5; 7:13-17 en 11:15-29?

b. ʼn Krisis word opgelos in die hemel

In 5:1-7 verneem ons van ʼn krisis in die hemel wanneer Johannes, die enigste aardse gas, skielik in trane uitbars. Die rede? Niemand in die heelal kan die boek in God se regterhand oopmaak nie omdat dit met sewe seëls verseël is. Hierdie boek, waarvan die simboliek uit Esegiël 2:9 ontleen is, dui op verborge profetiese woorde, of op God se raadsplan. Johannes hoor dan by een van die hemelse ouderlinge dat die Leeu uit die stam van Juda in die hemel sal verskyn om hierdie plan te ontsluit. Direk hierna daag ʼn Lam (arnion) op. Die Leeu is met ander woorde ʼn Lam. Hy is die Een wat op aarde geslag is om God se volk los te koop.

Johannes ken vir Jesus onder verskeie terme, soos Christus (sewe keer), Seun van God (een keer), Seun van die mens (twee keer), Here (23 keer) en die Lam (28 keer). Hoekom word Christus juis hier met sy aankoms in die hemel en kort na sy opstanding uit die dood, die Lam genoem? Wel, omdat Johannes benadruk Christus het Homself vir ons geoffer as die ware Paaslam. As Here dra Hy steeds die merktekens van hierdie aardse stryd met sy hemelse aankoms, soos wat die inhoud van die vier lewende wesens en 24 ouderlinge se loflied in 5:9-10 bevestig. Die Lam het ook sewe horings, wat dui op sy almag, asook sewe oë, naamlik die Gees wat Hy op Pinksterdag in sy volheid oor die aarde uitgestort het (Hand. 1:8). Die Lam kry reg wat niemand anders kan nie; Hy ontsluit die boekrol in God se regterhand omdat Hy oor alle mag beskik, soos wat Hy met sy hemelvaart gesê het (Matt. 28:19-20). Daarom hou Hy sy kerk vas in sy regterhand (1:16), en daarom het Hy ook die sleutels wat die dood en die doderyk oop- en toesluit (1:18).

c. Ware aanbidding volg altyd op die regte kennis van God

In die hemelse hofhouding gebeur God se wil, soos wat Jesus ons in die “Ons Vader”-gebed (Matt. 6:9-15) geleer het. Hoe? Deur lof; dis hoe! Reeds in Openbaring 4 eggo lof en aanbidding deur die hemelse sale as uitdrukking van hierdie bewoners se verstaan van wie God is (4:8-11). Nimmereindigende aanbidding borrel uit die harte van die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge wat God se heiligheid en ewige regering besing. Ook word God se skeppingswerke en sy instandhouding van sy handewerke lofsingend erken. Dieselfde lof en aanbidding word kort hierna aan die Lam geoffer as Hy die hemelse boekrol uit God se hand neem. Daar’s ook ʼn goue bak met wierook (vgl. 15:7; 16:1-4, 8, 10, 12, 17, 17:1; 21:9), wat dui op die gebede van gelowiges (6:9-11) wat later in 8:3-5 saam met wierook aan God geoffer word. ʼn Universele Godsvolk kom deur hierdie offer van die Lam tot stand – mense vanuit alle volke en nasies word losgekoop om sy eksklusiewe eiendom te wees. Hulle ontvang ʼn nuwe status, naamlik dié van konings en priesters (vers 10). Die aanbidding deur almal in die hemelse troonsaal onderstreep hulle verstaan van God se wil. Geen wonder nie dat daar ʼn mooi parallelle struktuur bestaan tussen Openbaring 4-5 rondom die aanbidding van Hom wat op die troon sit en die Lam, soos wat Witherington (Revelation. Cambridge: Cambridge University Press. 2003) aantoon:

In 5:13-14 sluit hierdie toneel in die hemelse troonsaal af met die gelykwaardige aanbidding van Hom wat op die troon sit en van die Lam wanneer die ganse skepping saam met al die hemelse skares, insluitend die miljoene engele van God, in ʼn crescendo van lof losbars. Aanbidding is die bestaansdoel van almal in die hemel; vandaar die instemmende “amen” deur die vier lewende wesens, asook die verdere golf van aanbidding wat dadelik weer uit die harte en oor die lippe van die 24 ouderlinge Godwaarts stroom (5:14).

Hoe gebruik Johannes die sewe seënuitsprake in 1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7 en 14?

* Teks geneem uit Ontsluit die Bybel. 2015. CUM uitgewers.


 

 

 

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

December 6, 2019

December 5, 2019

December 3, 2019

November 29, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: