top of page

Ek luister, Jesus [resensie]

deur Marius Nel

Marie Chapian. Ek luister, Jesus: Oordenkings vir elke dag uit sy hart. CUM. 2016

Marie Chapian is een van die min geestelike skrywers in Amerika wat onder andere die New York Times se topverkoperlys haal en wie se meer as 30 boeke regoor die wêreld vertaal en te koop aangebied word. Op dié manier het sy baie miljoene mense se lewens aangeraak. En as jy hierdie kleinerige boekie begin lees wat handig is om in jou handsak of rekenaarsak te bêre, gaan jy gou verstaan waarin haar gewildheid lê. Sy skryf kort, in digvorm, op die man (vrou) af. En sy gee korrek die gedagte van die Here weer wanneer sy Hom deurgaans aan die Woord stel, want haar woorde kom uit die hart van die Woord, wat Jesus en die Bybel is.

Onderaan elke dagstukkie noem sy dan ook die tekste waarop haar woorde gebaseer is.

Kom ek illustreer met’n voorbeeld. “Lewe vandag jou lewe as ‘n wonderwerk. Al is daar chaos en probleme rondom jou, lewe elke oomblik as ‘n unieke gebeurtenis, ‘n wonderwerk wat Ek spesiaal vir jou gestuur het om te waardeer en te koester. Lewe elke oomblik asof dit ‘n leeftyd is. Daar is lewe en doel in elke asemteug, in elke millisekonde op aarde. Niks in my koninkryk is sonder ‘n Goddelike doel nie, en dit is waarom hierdie dag en nag so belangrik is. Lewe elke oomblik voluit!” Die Skrifgedeeltes wat saam genoem word, is dan Psalm 84:12; 107:8; Kolossense 3:23-24 en Spreuke 8:35.

In 365 dagstukke stel die skrywer Jesus self aan die woord in ons moderne, gejaagde lewe en soos jy agterkom, is sy woorde relevant vir ons dag en tyd.

Ek stel voor: bederf jouself met dié boekie waaraan jy elke dag nie meer as 10 minute hoef te spandeer nie. Ek sit my geld daarop dat daardie 10 minute jou hele dag gaan verander!


bottom of page