Wie en wat is ekerk?

Wie en wat is ekerk?


Ekerk se doel is om mense regoor die aarde op die internet met die Here se Goeie Nuus te bedien. Saam met Stephan Joubert fokus ‘n span toegewyde Christenleiers gereeld op verskillende fasette van kerkwees. Die Ekerk is glad nie ‘n eksklusiewe kerk nie. Hier mag jy maar dubbele lidmaatskap hê, want jy moet ook nog by jou plaaslike kerk inskakel! Saam met jou eie kerk wil die Ekerk jou dien en begelei om die goedheid van ons wonderlike God nog beter te verstaan. As jy dalk ver van ‘n kerk af bly, of iewers in die buiteland sukkel om by ‘n vreemde kerk in te skakel, dan wil die Ekerk graag jou kerk wees!




Hoe raak ek betrokke by ekerk?


Daar is 'n hele spul maniere hoe jy kan betrokke raak by ekerk! Die beste manier is om óf deur die webblad te lees en te kliek op iets waarin jy belangstel, óf om op te daag by een van die ekerk byeenkomste. Hier's 'n paar maniere om jou aan die gang te kry:  1. Skryf in op die ekerk nuusbriewe 2. Sien die daaglikse artikels, videos en preke 3. Kom na die ekerk ontbyt of Learning Community toe 4. Raak betrokke by ons noodprogramme 5. Like ons Facebook en Instagram blad en volg ons op Twitter




Wat is ekerk se geloofsoortuiging?


Ekerk is ’n Christelike, nie-winsgewende organisasie waar ons Jesus meer sigbaar, voelbaar en verstaanbaar wil maak. Dus is ons nie kerk soos tradisioneel gesien, of slegs aanlyn soos die 'e' in ekerk klink nie.
Ons is ’n aanlyn en aflyn gemeenskap waar ons navolgers van Jesus bemoedig deur aanlyn artikels, preke en video’s, asook aflyn, gesig-tot-gesig geleenthede waar ons geestelike leiers toerus en oplei en nood projekte waar ons Jesus meer voelbaar probeer maak.

Sonder tierlantyntjies wil ons die boodskap van Jesus se liefde uitdra en mekaar aanspoor om die liefde van Jesus grondlangs uit te leef. Dit is hoekom die Bybel vir ekerk sentraal staan.

Deur die Bybel leer ons Jesus beter ken en fokus ons om God se Woord meer verstaanbaar te maak. Deur die Bybel te kommunikeer hoop ons dat Jesus se boodskap van liefde meer prominent in gelowiges se lewens sal wees.




Kan ek ekerk finansieël ondersteun?


Net soos enige ander gemeente of kerk, is die ekerk afhanklik van finansiële ondersteuning om te kan oorleef. Die ekerk is geregistreer as ‘n Artikel 21 maatskappy sonder 'n winsoogmerk. Die grootste deel van ekerk se inkomste word weggegee aan hulpbehoewende mense, evangelisasie projekte, ens. Daar sal ook gereeld op ons webblad en Facebook blad terugvoer gegee word oor al die ekerk weggee aksies. Sien die besonderhede hieronder.  Ekerk bankbesonderhede: Ekerk Vereniging, ABSA Bank, Takkode: 632 005, Rekening: 4059 699 232




Hoe kan ons Stephan Joubert nooi vir 'n spreek geleentheid?


Stuur 'n epos na stephan.optredes@gmail.com om Stephan Joubert te bespreek.





Geloofsvrae

Wat is valse profete?


Mag ons 'n paar beginsels uit die Skrif deel oor hoe om te weet. Kom ons begin by 1 Joh 2:18ff.

Hier skryf Johannes dat die kerk van sy dag ook dwaalleraars het. Wie is hulle: wel dis diegene wat Jesus verloën as Here. Daarom is jou oordeel oor die Jehova getuies 100% in die kol. Hulle verwerp Jesus se Godheid en gelykheid aan God die Vader (In Openb 5 word God en Jesus op presies dieselfde manier aanbid wat Jesus se absolute God-gelykheid onderstreep).

in Gal 1 skryf Paulus dat al verkondig selfs 'n engel uit die hemel 'n ander evangelie as dié van Jesus se kruis en opstanding, dan is dit vals. Die vernaamste toets is dus: wat bely mense oor Christus.

'n Tweede toets is mense se lewe. Jesus sê in Matt 7 ons word aan ons vrugte geken. Kyk dus ook of die leefwyse van mense ooreenstem net die Skrif.

Vervolgens moet ons nooit internet bronne goedsmoeds gebruik nie. die Skrif en mense se woorde en dade tel.




Waarheen gaan ‘n kindjie as die tot sterwe sou kom?


Die uitverkiesing bly interessant en uitdagend. Sonder om dit te oorvereenvoudig, wil ek begin deur te sê die kerk het ons nie aldag gehelp hier nie, want deur die eeue het hulle 'n abstrakte leerstuk ontwikkel getiteld "die uitverkiesing," so asof die Nuwe Testament 'n netjies uitgewerkte stuk dogmatiek hieroor geskryf het met logies-uitgewerkte argumente, stellings en al. Verseker praat die NT hieroor, maar dan altyd met regte mense en spesifieke gemeentes in gedagte. As Paulus vir die Tessalonisense in 1 Tess 1 skryf dat hulle die uitverkorenes is, praat met mense wat reeds glo. Dieselfde in Efesiërs 1:3-14, en in die ander briewe. Kortom, uitverkiesingstaal in die NT word altyd gebruik binne kerklike kontekste waar mense reeds in Christus glo. Paulus praat byvoorbeeld met mense in Efese waar hyself vir 3 jaar gewerk het en hulle tot geloof begelei het. Nou, nadat hy van hulle af weg is, troos en bemoedig hy hulle dat die ewige God hulle steeds sal vashou. Hy koppel in sy loflied oor die uitverkiesing in Ef. 1 (dit is poëties in Grieks, en baie ingewikkeld!) die ewige besluite van God aan die geloofskeuses van die gemeente. In hfst 2 maak hy dit egter weer duidelik dat selfs hulle geloof 'n stuk genade is van die oorvloedige goeie God (Ef. 2:1-10).

Uitverkiesingstaal in die NT kyk altyd retrospektief terug op God se werk in gelowiges se lewe. Paulus met name wil m.a.w. vir sy gemeentes verduidelik dat dit nie hulle geloofsprestasies is waaroor dit gaan nie. Terugkykend moet hulle besef dis die genadige God Self wat op hulle lewens beslag gelê het Daarom is uitverkiesingstaal altyd troostaal. Ook gebruik Paulus met name hierdie taal om te sê God sal sy werk in gelowiges se lewe klaar maak op die dag van die Here , soos in Fil. 1:6. Nooit gebruik Paulus uitverkiesingstaal teoreties, soos wat vele in die kerk dit vandag doen nie. Vir die kerk is dit dikwels 'n gesiglose, "objektiewe" leerstuk; vir die NT is dit troostaal en bemoedigingstaal aan regte mense om God se oorroepende en soewereine vooraf-werk in hulle lewens te illustreer.

Uitverkiesing sluit nie geloof uit nie. Vandaar dat die NT nooit die eis tot bekering en geloof laat vaar nie. Paulus self roep bv. in Handelinge 16 die tronkbewaarder tot geloof op as hy vra hoe hy gered kan word. En in daardie moeilike Rom 9-11, is Rom 10 juis die deel wat hfst 9 en 11 soos gom aan mekaar hou met die oproepe tot persoonlike geloof en die regte belydenis van Christus. Dus het die NT 2 perspektiewe- die persoonlike eis tot geloof in Christus, asook die retrospektiewe beligting van hierdie geloof, naamlik dat dit God is wat geloof bewerk. Nooit word hierdie spanning opgehef nie. Selfs in 2 Kor. 4:1-6, waar Paulus worstel met die vraag hoekom sekere mense nie glo nie, skryf hy dit nie toe aan 'n sogenaamde verwerping (soos wat 'n eng uitverkiesingsleer in sekere plekke teen die 16de eeu dit gedoen het nie). Inteendeel. Paulus se argument is dat sy evangelie oop en bloot en maklik verstaanbaar is. Almal kan dit sien en verstaan. Tog is die rede vir ongeloof toe te skryf aan die werk van die Bose wat mense verblind (4:3-4; netsoos wat Jesus in Matteus 13 in die gelykenis van die saaier ongeloof ook aan die Bose toeskryf!). Aan die ander kant, die feit dat Paulus en ander gelowiges glo, is niks anders nie as 'n tweede skeppingswonder. God wat aan die begin Genesis gemaak het, het m.a.w. 'n tweede Genesis in ons begin deur Christus (4:4-6). Hierdie twee pole, naamlik dat ongeloof mense se eie skuld is, maar dat geloof terugskouend, in gelowiges se lewe 'n Goddelike genadedaad is, is die mooi misterie van die NT.

Wat Rom 9-11 betref - hier het die kerk ons geen guns deur die eeue gedoen nie. Hulle het dit graag tot die groot uitverkiesingshoofstukke verhef. Feit is, Paulus skryf hier oor die uitverkiesing van Israel, nie oor uitverkiesing in die algemeen nie. Regdeur Rom 9-11 worstel hy met die vraag wat met Israel gaan gebeur noudat Christus gekom het. Sy konklusie is o.a. dat daar nog altyd in die historiese Israel ook 'n Goddelike uitverkiesinglyn te siene was en dat nie almal wat deel is van Israel ware Israeliete is nie. Te midde van hierdie gesprek, en te midde van die hoop in hfst 11 van 'n bekering onder bestaande Jode, plaas hy die mooi geloofshoofstuk 10, waar almal tot belydenis van Christus opgeroep word.

Kortom dus, ons almal word tot geloof opgeroep. Terugskouend kan ons wat glo slegs jubel oor God se verniet genade en dit as deel van sy uitverkiesende goedheid bely. Voor ons lê 'n stryd van geloof, maar ons hou vas aan die belofte dat God sy werk in ons voltooi. O ja, en dan weet ons ook ons kinders is van kleins af deel van sy familie, ook as hul vroeg sterf.




Wat is die konsep "Martyr". Hoe word dit in vandag se tyd vertolk?


Is ons reg as ons dit as "martyr" of martelaar verstaan? In die NT is martelare diegene wat hul lewens vir Christus fisies opoffer. Regdeur Openbaring met name is dit die term waarmee alle navolgers van Christus benoem word. Paulus maak ook in sy briewe die konneksie dat alle gelowiges wat Godvresend leef op een of ander manier vervolging en teenstand te wagte moet wees. Geloof vra 'n prys.




Tiende-riglyne


Ons moet een tree teruggee en die Nuwe Testament reg lees op hierdie punt ten einde reg te verstaan wat Christus vra.

A. In die OT is tiendes 'n kultiese handeling wat die gee van vleis en ander kos insluit om die leviete en ander personeel se lewensonderhoud te voorsien. Daar was selfs sprake van meer as een tiende vir die tempel

B. Die NT praat gladnie oor tiendes as voorskriftelik nie. Die enigste opmerkings hieroor is neutraal tot negatief. In Luk 18:8-14 is Jesus geensins positief oor die Fariseër wat sy tiende in detail gee nie. Trouens, Jesus beskou hom as verlore. In Matt 23 stel Jesus die streng gee van tiendes teenoor liefde en geregtigheid. Ook weet die NT dat die tempel as kultiese sentrum verval het. Dus is daar nie meer leviete wat versorg moet word nie. Nooit gebruik die NT die tiendes konsep om gemeentes aan te moedig om kerkleiers te versorg nie. Paulus sê gewoon in 1 Kor 9 dat dit gemeentes se roeping is om hul leiers te versorg. Maar dis nie 'n kultiese plig nie.

C. Die beginsel vd NT is Christus. Die vraag is nie wettiese gee van tiendes nie maar ons liefde vir Christus. Paulus verduidelik bv in 2 Kor 8:9 dat Homself vir ons gegee het. Nou moet ons dieselfde doen. Vgl ook Fil 2:1-11. Die beginsel is dat ons onsself aanhoudend gee. Presies dit doen die Masedoniese gelowiges in 2 Kor 8:1-5. Hulle gee hulleself aan God en aan ander. Dan gee hulle ook hul geld as offers. Dit maak hulle seer maar hulle blydskap is oorvloedig.

D. Alle gee van self, geld en besittings in die NT oorskry die OT tiendes by verre. Die arm weduwee van Mk 12:41-44 gee haar laaste sente; die vrou can Mk 14:3-19 gee n jaar en 'half se geld weg in terme van die reukolie se waarde wat sy op Jesus gooi. In Hand 4 gee Barnabas sy grond weg. En Johannes die Doper leer in Luk 3:11 dat selfs die armstes die helfte van hul besittings moet weggee. Saggeus in Luk 19 as die rykste gewone individu met wie Jesus te doen het kies ook om 50% van sy besittings weg te gee. Paulus skryf in Hd 20:35 dat ons hard moet werk sodat swakkes kan eet. Kortom, ons gee onsself en ons gee aanhoudend, spontaan en bepland. Tiendes as wet dryf ons nie, maar Jesus ons Heer inspireer ons.




Is die spreek van tale nog belangrik in ons tyd?


Paulus verduidelik in 1 Kor 12-14 dat die charismata of gawes se funksie hul noodsaak bepaal. Gawes is daar om Christus te verheerlik en ander gelowiges primêr mee op te bou (1 Kor 12:1-7). Ook moet dit met liefde en diensbaarheid gepaard gaan (1 Kor 13). Die vraag wat elkeen wat glossolalie beoefen, dus moet vra, is of dit tot eer van God en tot opbou gebeur. So nie, moet die gawe dan nie beoefen word nie. Immers oorroep die regte gebruik van die Here se gawes die besit daarvan.




Wat is reg, groot- of klein doop? Vraag is oor besprinkeling en onderdompeling en moet jy weer gedoop word.


Ons kry geen opdrag tot eksklusiewe volwasse doop in die NT nie en meen dat tekste baie lukraak gelees word deur diegene wat Markus 16 en Matteus 28 bv. in hierdie gleuf indruk. As Jesus sê gaan maak dissipels, doop hulle en leer hulle, gee HY nie volgorde waarin dit moet gebeur nie, maar wel 'n rangorde. Eerste dinge eerste- eers dissipelskap dan doop.

Ook hoor ons by die heel eerste doopgeleentheid in die vroeë kerk in Handelinge 2 dat Petrus eksplisiet sê dis vir kinders ook bedoel (Hand 2:38). Ook lees ons by elke fisiese doopgeleentheid in die NT dat indiwidue en hulle oikos of huishouding saam gedoop is, soos in Handelinge 16 of 1 Korintiërs 1. Uit alle antieke tekste waar oikos vir huishouding gebruik word, verwys dat na almal onder jou dak, selfs jou slawe en hul kinders. Ook weet ons kinders is ingesluit in Paulus se briewe (soos in Efesiërs 6) as volledig deel van die gemeente. Dit veronderstel hulle was gedooptes.

Die NT lê geen klem op die meganika of modus van doop nie. Daarom veg kerke so oor die regte manier en daarom vertel baie mense ons moet deur die Gees oortuig word ons moet groot gedoop word. Of dat ek myself moet groot doop omdat Jesus groot gedoop is. Feit is, Jesus is nie met die Christelike doop gedoop nie. Maar deur Johannes die Doper. Eers by sy hemelvaart stel Jesus die Christelike doop in. Sy doop is dus geen voorbeeld vir ons hoe om gedoop te word nie, maar 'n identifikasie met sondaars. In elk geval het Paulus mense oorgedoop in Hand 19 wat deur Johannes gedoop is.

Wat die NT wel baie van maak is die teologie van die doop. Ons dink voordat die gesprek oor die doop op die tafel kom (in terme van groot of klein doop) moet ons eers oor die teologie van die doop praat. En hieroor duidelikheid hê Dis tog belangriker om te weet wat die doop beteken as hoe dit bedien word. So verduidelik Paulus.

In alle dooptekste in die NT is mense dadelik gedoop direk na hul bekering (bv. Hand 8 en 16). Vandag besluit mense egter self wanneer hulle gereed is om groot gedoop te word. Die kerk van die NT het nooit so 'n keuse aan enigiemand gegee nie. Onmiddellik, en sonder dat mense behoorlik geweet het wat gebeur, is hulle gedoop. Daarom noem Paulus die doop selfs die bad van wedergeboorte.

Ook weet ons daar was verskillende maniere van doop in die vroeë kerk. Verseker het Paulus mense ook onderdompel, waar moontlik. Maar ek weet dat op Pinksterdag as Petrus 3,000 mense doop daar geen kans vir so iets was nie. Ons weet uit argeologie en as jy al Jerusalem besoek het, dat daar geen damme of spasies in die stad was waar so 'n groot skare in die water ingeneem kon word nie. Jerusalem is in die woestyn en water is daar in ondergrondse sisterne opgegaar. Petrus het verseker die mense dus net besprinkel. Dit wat die doop beteken maak die meeste saak.

Laastens is ons aldag onkant as ons die doop hoër ag as die nagmaal. Die heel belangrikste simbool en ritueel van die NT is die nagmaal, nie die doop nie. So belangrik is dit dat Jesus in Lk. 22 sê die Nuwe Verbond van God begin hier. Nooit word die doop so hoog geag nie. Trouens, Paulus skryf in 1 Kor. 1 hy doop self nie eens meer mense nie. Hy preek eerder.




Sondag en Sabbat


1. Sabbat is inderdaad vanaf Vrydag met sononder tot Saterdag dieselfde tyd. Israel vier dit tot vandag nog so. 2. Jesus verwerp hoe die mense sabbat vier. Hy kry ‘n paar doodsvonnisse omdat Hy sabbat oortree (Markus 3 en Johannes 5). 3. Die eerste Christene kom op Sondae bymekaar as opstandingsdag (Handelinge 20, 1 Kor 16). 4. Die teologie van die sabbat (Eksodus 20) word in Jesus vervul. Hy is ons sabbatrus (Hebreërs 4). In hierdie lig verstaan ons sabbat nou as sewe dae per week van geestelike rus in Jesus. Nou is ons nie langer slawe van werk nie. En nou weet ons ons sabbat is sewe dae per week.




Waarom gebeur slegte dinge met Christene?


Jong die Bybel bied geen versekeringspolis aan ons dat dit met gelowiges sal goed gaan en sleg sal gaan met nie-gelowiges nie. Dis juis Asaf se probleem as hy Psalm 73 skryf, naamlik dat dit so sleg gaan met hom as 'n Godvresende en so goed met ongelowiges. Job worstel met dieselfde vraag. Die Prediker skryf padlangs in Prediker 9 dat dieselfde lot almal tref, vromes en sondaars. Geloof is dus geen vrywaring dat niks sleg ons sal oorkom nie. Trouens, die ganse Nuwe Testament sê op wie weet hoeveel plekke dat lyding ons voorland is. Jesus sê bv. vir sy 2 dissipels wat spesiale sitplekke in die hemel soek dat hulle eers sy lydingsbeker ook moet drink op aarde (Mrk 10:35-45). 1 Petrus 3-4, 2 Kor 4 en 6, Openb 11 en baie ander tekste onderstreep hierdie punt dat Christene in 'n stukkende werklikheid leef en dat ons Jesus se lyding met ons saamdra - asook sy dood, soos wat Paulus skryf. Lyding is deel van die werklikheid.

Jakobus 1 bied 'n rede vir lyding- dis die gevolg van slegte mense wat weier om God se wil te doen wat moor en roof en vernietig. Jakobus 1 sê slegte dinge is die gevolg van mense wat al dieper en dieper in de strikke van die sonde ingelei word

Kom ons dra die vraag om- waar kom goeie dinge vandaan? Dit antwoord Jakobus 1:17-18. Alle goeie gawes kom van God af!




Waarom word sommige Christene nie genees nie?


Nêrens reik die Bybel 'n waarborg uit dat alle Christene sal gesond bly nie. Hierdie tipe siening berus op 'n dwaling wat mense versprei wat die Nuwe Testament met name verkeerd lees. Kyk na Jesus, Hy het nie alle siekes genees nie. In Joh 5 genees Hy bv. net een man by die bad van Betesda. Ook genees Hy nie as 'n doel opsigeself nie. Dit kyk baie geloofsgenesers ook mis. In Luk 11 en Matt 12 hoor ons sy wonders en duiweluitdrywings dien as bewyse dat God se koninkryk hier is. En in Johannes 2:11 hoor ons Jesus doen groot werke om sy eie heerlikheid te vertoon. Wonders gaan eerste oor Jesus en oor God. Elders in die Nuwe Testament lees ons nie dat siekte as vloek of straf of demoniese binding gesien word nie. In 1 Tim 5 skryf Paulus bv. vir Timoteus om bietjie wyn te drink vir sy ontstelde maag- gebruik medisyne, met ander woorde. En in Filippense 4 skryf Paulus oor iemand uit die gemeente wat by hom kom besoek aflê het in die tronk en toe siek geword het. Toe moes hy daar bly totdat hy op normale maniere weer beter geword het. Kortom, die Nuwe Testament het geen lering dat alles siekes moet gesond word nie, of deur gebed genees moet word nie. Of dat geloof die enigste voorwaarde hiervoor is nie. Siekte, net soos swaarkry, is 'n realiteit waarmee Christene moet deel. Dis nie straf of terugkry geleenthede of klein geloof nie; dis realiteite. Ons is oppad na 'n nuwe hemel en aarde waar dit nie meer sal gebeur nie.




Oor bloedlynvloeke


As mens die Bybel as God se Woord aanvaar en dit as enigste gesaghebbende norm gebruik en nie menslike ervarings en verhale nie, dan bestaan daar nie so iets soos sulke vloeke oor Christus se bloedgekoopte mense nie.

Eerstens daar is geen Bybelse tekstuele getuienis vir bloedlynvloeke nie. ‘n Teks soos Eksodus 20 wat praat oor God se straf tot die 3de en 4de geslag is beeldspraak om te wys God se oordeel is kort (3-4 geslagte as simbool), maar sy liefde is tot in die 1000ste geslag (onmeetbaar, dus). In die Nuwe Testament is daar geen enkele teks, opdrag of voorbeeld van sg. bindings en vloeke wat oor gelowiges se lewens gebreek moes word nie. En onthou - alle Christene in daardie tyd kom uit heidense godsdienste. Maar nooit word bevrydings van enige aard op hulle gedoen nie. Die rede is eenvoudig: Christus is die Here. Hy het die Bose aan die kruis oorwin (Kol 2:15). Jesus het die ‘sterk man (Satan) se huis oorgeneem soos wat Hyself vertel in Matt 12 en Luk 11. Alle Christene is nou tempels van die Heilige Gees volgens Paulus in 1 Kor 3:16. Selfs Christene wat hulle aan seksuele immoraliteit skuldig maak in 1 Kor 6 word nie met duiweluitdrywings gedreig deur Paulus nie, maar met die goeie nuus getroos dat hulle liggame nou tempels van die lewende God is (1 Kor 6:19). Hulle moet dit net glo en reg leef (1 Kor 6:18) want hulle is deur Jesus losgekoop

Nooit werk die Nuwe Testament met n oppermagtige satan nie. Ook nie die Ou Testament nie. Trouens, die hele Ou Testament los hom in die duister. Satan as eie persoon haal die Ou Testament slegs op 4 plekke: Job 1, Job 2, Sagaria 3 en 1 Kronieke 21.

In die Nuwe Testament word die satan as brullende leeu beskryf in 1 Petrus 5, en as ‘n kulkunstenaar wat hom in ‘n engel van die lig kan verander om dwaalleer te versprei (2 Kor 11:14), maar nooit ken God se Woord aan hom die mag toe van vloeke wat hy van geslag tot geslag oor gelowiges kan uitoefen nie. Dan oorroep hy die kruis van Christus. Satan is egter nie magtiger as Christus nie. Aan die kruis het Hy al ons sondes, vloeke en wat nog alles saam met Hom vasgespyker (Kol 2:14) en daar het Hy die mag van sonde in ons lewe gebreek (Kol 2:11-13). Ons is nou saam met Christus gekruisig (Gal 2:20). Selfs as ons sonde doen, is ons nie gebind of duiwelbesete nie, maar steeds nog geliefde kinders van God wat ons toevlug tot Christus moet neem soos wat 1 Joh 1:7-2:2 beskryf.

In Kol 1:15-20 beskryf Paulus hoe groot en heerlik Jesus regtig is en dat Hy alle vyandelike magte in sy hand vashou. Mense wat voorvadervloeke verkondig, trek eintlik n streep deur Jesus se almag en sy versoening vir al ons sondes. Dis om sy sterwe en die teenwoordigheid van die Gees by alle Christene mis te kyk (Rom 8:9; Joh 14). Hulle maak boonop ‘n vals onderskeid tussen ‘gewone’ sondes en sondes wat onterf. Die eintlike gevaarlike sondes is soos hoogmoed, dwaalleer en vele ander (Rom 1; Gal 5)

Dus: om in bloedlynvloeke te glo moet mens ‘n paar Bybeltekste uit konteks aanhaal en hulle dwing om buik te spreek agter ons slegte ervarings aan. En onthou- ervarings is nooit neutraal nie. Dit moet geïnterpreteer word. As persone dus begin om slegte ervarings (wat alle mense, goeies en slegtes, iewers beleef, aldus Prediker 9:2) in mense se lewe op willekeurige maniere aan sulke vloeke te koppel en hulle glo dit, dan word dit hul verklaringsmodel. Maar God se Woord leer ons moet ons ervarings altyd aan die Skrif toets. En as die Bybel sê sulke vloeke kan nie Christene tref nie (lees ook 2 Kor 6:14-7:1) dan is dit nie die regte diagnoses nie. Dan trek dit mense in lewenslange vrees vir vloeke en duiwels in en dan is die vrede van God wat Christus vir ons bedoel het (Fil 4:4-13) daarmee heen.




Wat is die wederkoms en wagraping?


Die wegraping is geen Bybelse leerstuk nie. As mens die Nuwe Testament reg lees kom daar letterlik geen enkele verwysing na 'n wegvat van gelowiges voor die wederkoms plaas nie.

Kom ons vat die tekste wat ek weet gewoonlik deur wegrapers gebruik word: Matt 24 en 1 Tess 4. In Matteus 24-25 wat oor die einde en die wederkoms handel, hoor ons van 2 mense wat op die land is - een word weggevat en een aangeneem. ek weet dit word foutiewelik vir die wegraping gebruik. In die Grieks teks verwys Jesus na die parousia van die Seun van die mens wanneer hierdie wegneem plaasvind.

Nou, parousia is die tegniese term regdeur die NT vir die wederkoms. Dus gebeur hierdie voorbeeld by die Seun van die mens se terugkeer. Vervolgens- in 1 Tess 4 hoor ons van mense wat weggerap word na die wolke toe. Ook hier gebruik Paulus weer die term parousia. Dus is daar slegs by die wederkoms 'n wegraping.

Jy kan gerus kyk na 'n gratis boek oor die wederkoms wat deur Stephan Joubert geskryf is op ons webtuiste. Jy kan hom gratis aflaai hier.





Vrae oor die Bybel

In die nuwe testament hoe word "Vas" gesien? Is dit nog 'n gebruik wat die NT voorstaan?


In die NT is daar nie te veel klem op vas nie. Jesus is trouens op rekord in Markus 2:14-18 dat ons nie kan vas terwyl Hy as die Bruidegom by ons is nie. In Matt 6 word dit ietwat neutraal hanteer as Jesus sê dat diegene wat dit wel doen geen godsdienstige vertoning hiervan moet maak nie. Die NT maak veel meer van kos ter herinnering aan die Here se teenwoordigheid as die afwesigheid daarvan om ons aan God te herinner.




Hoekom word Satan se verskyning in die paradys nie genoem nie?


Satan is nie so belangrik in die Bybel soos wat hy vandag in die kerk is nie. Hy kry deesdae meer aandag per preek as wat hy in die ganse Ou Testament kry waar daar net in Job 1-2, Sagaria 3 en 1 Kronieke 21 verwysings na Satan as 'n persoonlike wese is. Die skeppingsverhale in Genesis 1-2 wil op God as die almagtige skepper van hemel en aarde en die mens fokus en nie aan Satan enige eer gee nie. Vandaar die stilswye oor hom.




Hoe moet die wedergeboorte van Joh 3:3 verstaan word?


Weet jy, tegnies is die term weergeboorte in Joh 3:3 ‘n slegte vertaling van die Grieks. Johannes gebruik letterlik die woorde "van bo af gebore." En as jy Johannes 1-5 lees, sien jy alles in Johannes se evangelie gaan oor bo en onder; lig en donker; lewe en dood. Jesus se punt in Joh 3 is dus dat as God jou nie verander nie, dan verstaan jy niks van sy dinge nie. Presies dit gebeur juis in die teks met die godsdienstige leier Nikodemus, wat niks hoor wat Jesus sê nie en hy dink net 'n fisiese geboorte. Paulus gebruik in Titus die tegniese term weer geboorte as hy die doop die bad van wedergeboorte noem. Ook in die eerste Petrusbrief kom dit voor. Maar weergeboorte is altyd in die betekenisveld van geloof. Bedoelende, dit bevestig die bonatuurlike werk van God, sonder om geloof aan ons kant van die draad verby te gaan. Ander terme in dieselfde betekenisveld sou wees: genade en ontferming. Dit onderstreep God se unieke, oorroepende betrokkenheid om ons Syne te maak.




Kan Spreuke 19:19 asseblief verduidelik word?


Spreuke identifiseer dinge soos woede en destruktiewe taal met dwaasheid. Hy weet dwase is nie leerbaar nie. Dus waarsku hy die wyses om nie te veel energie aan modifisering van dwase se gedrag te spandeer nie. Al wat dwase kan help is 'n hartsverandering. Tot dan sal dit nie veel waarde hê om hul woede uitbarstings te probeer beheer nie.




Moet die 10 gebooie van Eksodus 20 nog onderhou word?


Baie mense gebruik steeds die OT om die NT te lees, terwyl dit sedert die koms van Christus net mooi andersom moet wees. As Jesus in Lukas 22 by die nagmaal sê dat God 'n nuwe testament met ons opgerig het, dan is die beginpunt sedertdien om vanuit die nuwe verbond te redeneer en die ou verbond, wat nie gedoen het waarvoor God dit bestem het nie, hierdeur te verstaan. Mense wat terugval in nuwe vorms van Judaisme volg egter nie hierdie roete nie en dwing die NT nogmaals in die OT se kultiese verstaan van die wette in.

Sedert Jesus se koms, sterwe en opstanding interpreteer ons die OT en die 10 gebooie in die lig van Sy vervanging van die Joodse kultus en kultiese gebruike. Jesus sê immers in Joh 4 en in Matt 26 Hy is die nuwe tempel. En dat Hy die Here van Sabbat geword het - Markus 2/3 en Matteus 12. Of dat Hy ons nuwe hoëpriester geword het (Hebreërs) Of dat alle gelowiges nou priesters is wat die OT se formele kultus oorboord verklaar. Die Hebreërbrief weet wat van begin tot einde dat die OT se offers nie geslaag het nie en dat die OT priesters en kultiese gebruike misluk het. Paulus skryf in Romeine 4 en 7 en regdeur Galasiërs dat die wet in die greep van sonde verval het en nie op die langtermyn geregtigheid voor God bewerkstellig het nie. Wanneer Matteus dus in hoofstuk 5 noem dat die wet nie sal verbygaan nie, dan moet ons dus die NT veel meer gedetailleerd, en ook inhoudelik korrek lees om te vra wat dit beteken.

Die betekenis van die OT se norme is tydloos, maar nie die gebruike wat daar gegeld het nie. Die vroeë kerk het nie die wette verabsoluteer ten koste van die betekenis daarvan nie. Die gesprek in Handelinge 15 was juis of die vroeë kerk Joodse wette moes hou of nie. Toe is daar besluit om nie die roete van die sentrale Joodse gebruike na te volg nie. Hulle het immers verstaan wat Christus se vervulling van die OT beteken. Hulle was nie wettisiste nie.

Een van die grootste skuiwe tussen die OT en die NT is die sentrale rol van Christus wat in Homself die ganse OT kultus absorbeer. Vir die NT word Hy met name die nuwe wet (hetsy as vervloekte; hetsy as vervuller en hetsy in 'n sekere sin as vervanger hiervan). Ook word Jesus die nuwe tempel, hoëpriester, besnydenis, pasga, kos, drank... Omdat Jesus ons Heer en redder is begin ons altyd by Hom. Ons is gehoorsaam aan Hom en Sy Gees lei ons in die waarheid. Met name beteken dit vir Paulus dat ons die wet van die Gees navolg.

Beteken dit dan die wet is nie goed nie? Nee, Paulus noem die wet in Romeine 7 steeds heilig, maar hy weet ook die wet kan nie doen wat dit veronderstel is om te doen nie, naamlik om sonde in te perk. Ten beste maak die wet sonde meer omdat dit hoogstens net name en etikette aan sonde gee, maar dit nie kan keer nie. Dus word sonde in 'n sekere sin meer onder die wet.

Ook weet Paulus in 2 Kor 3 dat al is die wet goed, dit soos 'n sluier werk wat mense verblind. Nou leef ons egter in die era van die Gees. Hy aktiveer die wet. Bedoelende, Hy stel ons in staat om aan die basiese eis van die wet te voldoen, naamlik om God en ander lief te hê. Dit noem Paulus ook in Rom 8:4. Met ander woorde, die basiese eis van die wet is liefde. Maar, die letterlike nakoming van indiwiduele gebooie is nie meer in die fokus nie.

Die wet is nou 'n etiese rigsnoer in die hande van die Gees (wat dit op ons harte oorskryf) en nie meer 'n vrystaande grootheid soos in die OT wat onafhanklik funksioneer het nie. Die Gees neem die wet (as liefdesgebod) in sy hande en herskryf dit in die harte van gelowiges. Tog is die fokus nie die wet per se nie, maar die Gees wat sy wet en God se wil in ons uitwerk, soos wat dit in God se openbaring, insluitende die wet, neerslag vind.




Watter vertaling van die Bybel moet 'n mens lees? Daar is soveel verskille, en besware oor sommige vertalings, dis nogal verwarrend. Baie dankie!


Helaas word ons deesdae met vals informasie gebombardeer oor sg vals Bybelvertalings. Met name loop die beoogde nuwe Afrikaanse Bybel sterk deur as sou tekste weggelaat word; woorde ontbreek, ensovoorts. Met respek, dit laat my dink aan iemand wat die kaptein van 'n vliegtuig woes kritiseer oor hoe hy vlieg sonder dat die passasier self 'n benul het hoe om 'n vliegtuig te vlieg.

Mag ons net een of twee feite in hierdie verband deel

A. Ons het nie meer die oorspronklike tekste van die Bybel tot ons beskikking nie. Die heel oudste fragment van die NT is 'n klein deel van die Joh evangelie uit die jaar 120 na Christus. Ons oudste bestaande manuskripte van die NT kom uit die laat 3e eeu en begin 4e eeu. Laas toe ek gekyk het was daar, as ek reg onthou, meer as 3000 manuskripte van die NT vanaf die 4e tot die 10e eeu beskikbaar. Hulle vertoon klein en groter variante lesings van sekere verse. Daarom moet ons vasstel watter tekste die heel naaste aan die Bybelskrywers self is. Gelukkig het ons apokriewe boeke, wat ook bepaalde Bybelverse aanhaal, en kerkvaders se geskrifte uit die eerste 300 jaar na Christus wat ons ook kan nagaan sodat ons vandag meer as 95% seker is dat ons vroegste manuskripte ons by die oorspronklike tekste bring.

B. Kom ons kyk na die sg. vele weglatings in die 1983 en komende 2016 AFRIKAANSE Bybelteks. Tegnies dit net mooi andersom. Die King James, Hollandse State-Bybel en 1953 Afrikaanse vertaling is gebaseer op die sg.Textus Receptus of Westerse teksmanuskripte. Hierdie Griekse tekste stam meestal uit die 5de en selfs 6e eeu na Christus. Intussen, na die vertaling van die King James, is ouer manuskripte van die NT ontdek, soos die Codex Vaticanus, en Sinaiticus, wat ons 2 eeue vroeër in die geskiedenis terugneem, tot minstens aan die begin 4e eeu. In hierdie ouer en meer betroubare Griekse tekste van die NT het gedeeltes soos die slot van die ONS VADER of Handelinge 8:37 of 1 Joh 5:9 nie voorgekom nie. Dit is dus inderwaarheid latere byvoegings, maar omdat ons eie vertalings vroeër hierop gebaseer was, glo mense latere vertalings (soos die 83 vertaling) het daardie dele weggelaat. Die feit is dat dit net mooi andersom is.

C. Vertalers gebruik vandag die oudste en mees betroubare tekste. Daar's geen conspiracy theory of katolieke aanslag of so iets in die 83 en 2016 vertalings en sekere Engelse vertalings nie. Ek was aanvanklik ook genooi om mee te werk aan die 2016 vertaling maar het spoedig bedank vanweë die feit dat ek nie self mal is or letterlike vertalings nie (omdat ek nie dink mens kan betekenis letterlik van een taal na 'n ander oorvertaal nie). Tog het ek geen probleem met die integriteit van die vertalers nie. Hulle glo in Christus en is nie new agers of ondergrawers van ons geloof nie. Alles en behalwe. Om dit van hulle te glo, sonder om die roete van 1 Kor 13 te loop, is nie goed nie




Waar is satan nadat Jesus hom oorwin het met die opstanding. Is hy gebind en is daar verskillende sienings?


Die verhaal van Openbaring 12-20 gee die antwoord. Hfst 12 sluit aan by Jesus se hemelvaart (die Kind wat weggeruk word hemel toe). Die draak (Satan) hardloop agterna maar word uitgegooi. Hier op aarde kry hy dan 2 bose helpers in Openbaring 13. Die dier uit die see boots Jesus na en die dier uit die aarde boots die Gees na. Ons het dus ‘n sataniese trio wat tot by die wederkoms aktief is. Satan self verdwyn agter hierdie bose diere. Eers in hfst 20 se eerste verse hoor ons hy is vir 1000 jaar gebind in die onderwêreld. As ons hierdie teks reg lees soos (en los van alke kerklike kontaminasies!) sien ons dat terwyl Christus in die hemel regeer vir 1000 jaar (as simboliese aanduiding vir die tyd tussen hemelvaart en wederkoms wat in die hemel afspeel!) is satan in die onderwêreld of abussos in Grieks. Aan die einde van die geskiedenis word hy dan oopgesluit om finaal vernietig te word deur die Here.




Wat het Christus met die opmerking bedoel van Johannes 20:17. "Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”


Ons moet dit verstaan in die lig van Johannes se verstaan van Jesus se verheerliking. Regdeur die evangelie, vanaf hoofstuk 1, is Jesus se heerlikheid of doksa ter sprake, soos in 1:14. Jesus kom naamlik om sy heerlikheid en dié van sy Vader op aarde te openbaar. Die hoogtepunt van hierdie openbaring is die kruis. Johannes verstaan Jesus se lyding as sy kroning, en as die aardse vertoning van sy heerlikheid, al is dit op 'n paradoksale manier. Vroeër in Johannes 17 het Jesus juis gebid dat sy Vader Hom hier sal verheerlik. Nou, pas na sy verheerliking aan die kruis verskyn Jesus aan Maria. Sy verwar Hom eers vir die tuinier en dan, as sy sy stem herken, wil sy aan Jesus raak. Haptomai- die Griekse woord hier vir aanraak, kan ook vertaal word met omhels of vashou. Tipies van groot vreugde sou laasgenoemde klem gepas wees by Maria. Jesus verbied dit egter, want die verhouding tussen Hom en sy volgelinge is nie dié van gewone vriende (soos tussen ons en ons eie vriende nie), maar die van Verheerlikete Heer en dissipels. Haar plek is nou aanbidding en getuienis, nie tipiese aanrakings soos tussen gewone vriende nie. Maria moet weet Jesus is op pad terug na sy verheerlikte plek in die hemel. Daarom moet sy haar plek nou ken.




Wat het met Jesus gebeur tydens sy dood? Was Hy in die Hel?


Jesus was nie in die hel na sy sterwe nie. Hel (gehenna) is die term wat gebruik word vir die permanente toestand waar ongelowiges en die bose magte hulleself gaan bevind vanaf die wederkoms, aldus Openb. 20;11-15. Die doderyk oftewel sheōl in Hebreeus, of hades in Grieks is die tussenstasie waar ongelowiges en kie tot met die wederkoms is. Die apokriewe werk, Die Handelinge van Petrus, vertel hoedat Jesus wel met sy sterwe in hades aankom om sy triomf aan te kondig en die gevangenes te bevry. Tipies van die denke in daardie tyd, asook vroeg-Christelike denke, begin enige thriambos of oorwinningsoptog altyd op vyandelike terrein. Dus begin die thriambos (as Griekse woord vir oorwinningsoptogte) van God presies hier - op die dood en die bose se magte se voorstoep wanneer Jesus sterf aan die kruis , aldus Kol 2:15. Die NT deel egter nie die idee dat Jesus in hades sy triomf gaan aankondig nie Sy thriambos in Ef 4 en Openb 12 vind in die hemel plaas. Soos genoem, die buite-Bybelse bron, Handelinge van Petrus, en waarskynlik die apostoliese geloofsbelydenis (met die woorde hy het ter helle neergedaal, wat afkomstig is uit die 2e-5e eeu) deel egter die idee dat JESUS se oorwinningsoptog na sy dood begin in hades.




Wat beteken die 666 verwysing in Openbaring 13?


Die 666 verwysing in Openbaring 13 is 'n getalle spel (bekend as gematria in Grieks) waar daar aan elke letter van die alfabet 'n waarde toegeken word. (A= 1; B=2; C = 3, ens). Johannes gebruik dit as verskuilde verwysing na 'n fisiese beliggaming van die derde figuur in die sataniese trio waaroor hy sedert Openbaring 12 skryf. Teenoor God die Vader is die draak hier in aksie. Teenoor Jesus is die dier uit die see in aksie in die wêreld (Hy boots Jesus se naam na, asook sy wonde en sy mag). Dan is daar ook die dier uit die see wat die Gees naboots. Hy lyk soos 'n lammetjie maar praat soos die draak. Ook plaas hy hierdie 666 merk op mense se kop en hand. Dit is 'n vervalste nabootsing van die Here wat al sy mense op hulle voorkop merk. So lees ons in Openbaring 7 en direk hierna in Openbaring 14 - waar 144 000 gelowiges (as simbool van die ganse kerk van Christus uit alle volke tale en stamme, soos wat Openbaring 7:9 uitwys) met Christus se Naam en sy Vader se Naam gemerk word. Dus is die sg. 666 merk 'n verwysing na almal wat weier om Christus se merk te aanvaar (soos wat die res van Openbaring 14 uitwys), en wat vrywilliglik voor sonde buig. Hierdie merk is dus 'n simboliese verwysing na almal wat nie vir Christus as Heer ken en bely nie. Hulle almal, klein en groot, ryk en arm (dus letterlik alle mense) word deur die Bose gemerk as sy eiendom. Maar Christus en die Gees nooi ook vir hulle aan die einde van Openbaring uit om verniet sy lewende water te kom drink. In Openbaring 7 hoor ons dat elkeen wat hulle klere gewas het in die bloed van die Lam vir altyd rein sal wees. Met ander woorde, Christus was ook die 666 merk af en skryf sy Naam op ons en boonop skryf Hy ook ons name in sy boek van die lewe.





Gebed

Moet ons bid vir die owerhede?


Ons moet bid vir die owerhede soos Romeine 13 vra. Paulus skryf vir Timoteus ons moet bid dat hulle so sal vergeet dat ons met vrede kan leef. In 1 Pet 5 roep Petrus ons ook op om die owerhede se welsyn voorop moet stel. Die roete is dus vir geregtigheid en ordelikheid en vrede waarvoor ons bid. Gebed is dus dieselfde vir owerhede as vir alle instansies - naamlik om die eer van God. In 1 Pet 2:17 skryf Petrus kortliks hoe ons lewe moet wees naamlik een waar ons medegelowiges liefhet, God eer, die owerhede respekteer en nie-gelowiges ook. Dit is die roete dus van Christelike liefde. In Handelinge 4 maak Petrus dit duidelik dat ons egter nie gehoorsaamheid skuld aan owerhede as ons eie geloof in die gedrang kom nie. Ons hoogste prioriteit is Christus. Ons heimat is by Hom soos wat Paulus in Fil 3:20 skryf.




Hoekom kry ek nie waarvoor ek bid nie, is dit dalk dat ek verkeerd handel of nie opreg is my gebede nie?


Ons wil eerstens sê gebed se primêre funksie is gesprek met God en verheerliking van God Ja daar is baie tekste wat sê ons moet vra en ons sal ontvang, maar dan moet ons dit in die groot raam van die Bybelse siening van gebed as gesprek met die lewende God sien. Die meeste gebede gaan oor verheerliking van sy naam en vreugde vind in sy teenwoordigheid. Gebed is ook om my wil te onderwerp aan Sy wil. Dit is om Hom te laat meer wees en myself en my behoeftes te krimp. Gebed is om te weet God is genoeg.

Vervolgens-selfsug kan soms 'n rede vir onverhoorde gebede wees wanneer ons vir God dinge vra. So skryf Jakobus 4:1-2. God is inderdaad die hoorder van gebed, Psalm 65:3, maar dan bid ons op sy wil af.

Dan is daar dikwels die misterie van God wat stil is ("God on mute" soos wat Pete Greig in sy aangrypende boek oor gebed skryf). God het 'n ander tydskedule as ek. Sy tyd is nie my tyd nie. Soms bid ek jare vir iemand en dit lyk of die hemele toe is en ander kere verhoor Hy in 'n oogwink.

Dus, dit bly 'n lewenslange worsteling. Bid en glo. Bid om God te verheerlik. Bid om te ontvang. Maar bid om ook te berus. God is die God van liefde. Hy tel die hare op ons koppe. Hy weet wat ons nodig het. Daarin berus ek. Mag jy dit ook beleef.




Is dit reg wanneer ek bid om skrifgedeeltes uit ‘n gebedsboek te bid?


Jy kan gerus ook Skrifgedeeltes uit 'n gebedsboek bid. Gebed is nie maar 'n spontane handeling waar ek net enigiets bid wat in my hart opkom nie. Die Gees systap nooit my eie inoefening van ware gebede nie. Kyk maar na Bybelse gebede. Die Ons Vader is 'n gestruktureerde gebed. So ook vele gebede in die psalms. Dit is deurdagte gebede in digvorm en nie uit die vuis woorde nie. Ook hoor ons by die dissipels in Lukas 11 dat ons moet leer om te bid. As gebed maar net spontaan was sou geen oefening nodig gewees het nie.




As ons bid vir iets, bv. vir iemand se genesing en daardie persoon gaan dood, hoekom bid ons dan? Was daardie gebed dan onnodig?


Ons moet eerstens sê gebed se primêre funksie is gesprek met God en verheerliking van God. Ja, daar is baie tekste wat sê ons moet vra en ons sal ontvang, maar dan moet ons dit in die groot raam van die Bybelse siening van gebed as gesprek met die lewende God sien. Die meeste gebede gaan oor verheerliking van sy naam en vreugde vind in sy teenwoordigheid. Gebed is ook om my wil te onderwerp aan Sy wil. Dit is om Hom te laat meer wees en myself en my behoeftes te krimp. Gebed is om te weet God is genoeg.
Dan is daar dikwels die misterie van God wat stil is ("God on mute" soos wat Pete Greig in sy aangrypende boek oor gebed skryf). God het 'n ander tydskedule as ek. Sy tyd is nie my tyd nie. Soms bid ek jare vir iemand en dit lyk of die hemele toe is en ander kere verhoor Hy in 'n oogwink.

Oor die gebed vir genesing: Nêrens reik die Bybel 'n waarborg uit dat alle Christene sal gesond bly nie. Hierdie tipe siening berus op 'n dwaling wat mense versprei wat die Nuwe Testament met name verkeerd lees. Kyk na Jesus, Hy het nie alle siekes genees nie. In Joh 5 genees Hy bv. net een man by die bad van Betesda. Ook genees Hy nie as 'n doel opsigeself nie. Dit kyk baie geloofsgenesers ook mis. In Luk 11 en Matt 12 hoor ons sy wonders en duiweluitdrywings dien as bewyse dat God se koninkryk hier is. En in Johannes 2:11 hoor ons Jesus doen groot werke om sy eie heerlikheid te vertoon. Wonders gaan eerste oor Jesus en oor God. Elders in die NT lees ons nie dat siekte as vloek of straf of demoniese binding gesien word nie. In 1 Tim 5 skryf Paulus bv. vir Timoteus om bietjie wyn te drink vir sy ontstelde maag- gebruik medisyne, met ander woorde. En in Filippense 4 skryf Paulus oor iemand uit die gemeente wat by hom kom besoek aflê het in die tronk en toe siek geword het. Toe moes hy daar bly totdat hy op normale maniere weer beter geword het. Kortom, die N.T. het geen lering dat alles siekes moet gesond word nie, of deur gebed genees moet word nie. Of dat geloof die enigste voorwaarde hiervoor is nie. Siekte, netsoos swaarkry, is 'n realiteit waarmee Christene moet deel. Dis nie straf of terugkry geleenthede of klein geloof nie; dis realiteite. Ons is oppad na 'n nuwe hemel en aarde waar dit nie meer sal gebeur nie

Dus, bly hierdie vrae 'n lewenslange worsteling. Bid en glo. Bid om God te verheerlik. Bid om te ontvang. Maar bid om ook te berus. God is die God van liefde. Hy tel die hare op ons koppe. Hy weet wat ons nodig het. Daarin berus ek. Mag jy dit ook beleef.





DALK HET

JY VRAE?

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: