Word wyser. Doen dit op die Here se manier
top of page

Word wyser. Doen dit op die Here se manier


In sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief help Stephan Joubert ons hoe om wyser te word op God se manier.
Word wyser. Doen dit op die Here se manier

Wysheid kom met die grysheid. So sê die ou spreekwoord. Spreuke 16:31 sê juis dat grys hare soos ’n kosbare kroon is vir mense wat weet hoe om reg te leef. Soms daag grysheid egter alleen op sonder al die nodige wysheid. Party mense word nie mooier ouer nie. Hulle raak sommer net omgesukkeld. Hulle is nukkerig en ongepoets. Hulle sê wat hulle wil, wanneer hulle wil. Hulle skryf venynige briewe in koerante. Hulle kritiseer alles en almal van vroeg tot laat. Sulke bitterheid gebeur nie oornag nie. Dit kom ’n lang pad. Party kwaai jongmanne verander algaande in knorrige ou ooms. Sommige moeilike dames ontaard in selfgesentreerde tannies.


Goddank, daar is massas mense wat wyser word saam met die jare. Hulle geloof raak sterker en dieper. Hulle paaie saam met die Here word mooier. Daar kom ’n groter rustigheid in hulle lewe wat aansteeklik is. Ek dink dadelik aan ’n paar ouer vriende in my eie lewe by wie ek gedurig leer. ’n Paar van hulle het heelbo aan die leer van die lewe op hulle speelvelde opgeeïndig, maar dit het nie hulle identiteit geword nie. Hulle groot suksesse op sakegebied of in die akademiese wêreld is lankal nie meer die somtotaal van hulle bestaan nie. Ek leer by hulle dat die lewe op die ou einde gaan oor ’n diep vrede oor wie jy in die Here is. Oor jou daar wees vir jou familie en vriende. Jaag die regte dinge betyds na. Soek die Here se wysheid gedurig op. Dan betrap die ouderdom jou nie onkant nie. Dan word jy wyser, terwyl jy ouer word. Dit is God se wil.

bottom of page