top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Woede maak jou blind, liefde maak jou redelik


Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor woede wat ons blind maak, en liefde wat ons redelik maak.
Woede maak jou blind, liefde maak jou redelik

Dis opmerklik hoe kwaad en woedend mense vandag is, sommer oor alles. In die media en sosiale media word gewelddadige dinge mekaar die hele tyd toegesnou. Dis blykbaar hoe mense vandag aandag trek. As iemand graag baie likes op sy Facebook-blad wil hê, moet hy net iets plaas waaroor hy kwaad is, of wat die lesers kwaad maak. Woede is die nuwe bemarkingstrategie, die nuutste foefie om die publiek se aandag mee te trek.


Die probleem met kwaai mense is egter dat hulle juis gewoonlik nie goed deurdagte opinies het nie, omdat dit deur suiwer emosie gedryf word. Woede maak jou blind, onsensitief en onnosel.


Woede is egter ‘n natuurlike menslike emosie en daarom vertel die Bybel baie verhale van woedende mense. Die verhaal van die verlore seun in Lukas 15 is ‘n goeie voorbeeld.


Die eerste woedende persoon, wat ons teëkom, is die jong rebelse kind, wat al sy bagasie pak, sy pa se geld vat en koers kies. Hy moes baie kwaad gewees het. Iemand wat sy eie erfporsie vooruit vra, wens daarmee eintlik dat sy pa sterf, aangesien seuns in daardie dae (volgens die Joodse tradisie) eers hulle erfporsies ontvang het, wanneer die pa van die familie oorlede is. Hy moes dus uiters kwaad gewees het om sy pa so seer te maak. Hy kry egter sy redelikheid terug, toe hy vir ‘n rukkie in die varkhok deurbring. Daarna pak hy weer die pad terug huis toe aan.


Dis juis hier waar ons by die tweede woedende persoon kom – die ouer broer. Hy is hewig ontsteld dat sy pa sommer net die rebelse boetie terugneem en vir hom ‘n fees reël. Hy voel verontreg en te na gekom, omdat hy al die jare hard gewerk het. Hy behoort immers meer regte te geniet.


En dit bring ons by die redelike een in die verhaal – die liefdevolle pa. Lukas vertel die storie juis so dat die lesers die twee seuns sien as die radikale en emosionele teenpole, terwyl die liefdevolle pa die redelike middelman verteenwoordig. Die pa praat liefdevol en innemend met albei partye. Die pa se liefde veroorsaak dat hy nie kant kies tussen die boeties nie. Hy wend hom homself nie tot een van hulle emosiebelaaide kampe nie. Hy nooi hulle eerder na ‘n derde posisie, ‘n posisie van liefdevolle redelikheid, waar hulle met mekaar kan praat en kan versoen. Dít is Jesus se punt met die storie. God is die liefdevolle Een, wat almal tafel toe nooi vir ‘n redelike gesprek.


Ek wonder hoe ons land daar sou uitsien indien alle partye, gemeentes en geestelike leiers hierdie pa se liefdevolle redelikheid teenoor mekaar gehandhaaf het.

Comments


bottom of page