top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Wees ’n goeie antwoord op die regte vrae


Charles Schultz, die skepper van die strokiesreeks “Peanuts,” het iewers vir mense gevra om die volgende tipe vrae te beantwoord: Noem die laaste ses Oscarwenners vir die Beste Akteur en Aktrise. Noem tien mense, wat reeds die Nobelprys en die Pulitzerprys gewen het. Noem die vyf rykste mense ter wêreld. Schultz sê toe dat die meeste mense nie die antwoorde geken het nie. Gister en vandag se “celebrities” raak gou-gou vergete. Maar toe vra hy die volgende vrae: Watter onderwysers het ’n groot invloed op jou lewe gehad? Noem vyf mense by wie jy groot lewenslesse geleer het. Watter mense het jou geliefd laat voel? Laasgenoemde vrae is maklik. Dadelik kan jy name, gesigte en goeie herinneringe aan jou antwoorde koppel. Van sulke vrae gepraat: Daar’s ook ’n ander stel vrae, wat jy vir jouself moet afvra. Hierdie vrae verskuif die klem vanaf dit wat ander mense vir jou beteken na watter impak jý in ander se lewens maak. Beantwoord dit gou:


In wie se lewe maak ekself tans ’n verskil? Vir wie was ek ’n naaste in die afgelope week? Hoe het ek onlangs iemand se laste gedra? Vir wie het ek vandag gebid? Hoe het ek my tyd, my geld en my talente die afgelope maand prakties in diens van die Here gestel? Watter arme ken my op die naam? En laastens: Hoe dink ek praat Jesus oor my, wanneer my naam voor Sy Vader ter sprake is (Matteus 10:32)? 


Wees asseblief ’n goeie antwoord op die regte vrae, daardie soort, wat God se hart reg aanraak.

Comments


bottom of page