top of page

Wat sou Jesus doen?



 ‘n Paar jaar gelede kry ek hierdie kosbare gedeelte in my vroeg oggend stiltetyd in ‘n hotelkamer:


Kolossense 3:13b

“Kyk ook by mekaar se foute verby. Die Here het immers by al julle foute verbygekyk. Daarom word niks minder van julle verwag nie.

As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk”.  -  Die Boodskap

 

Net daarna stry ek en my liewe man oor ‘n kleinigheid, naamlik waar om my wasgoed te laat was terwyl ons in die hotel tuis is.

 

Die volgende oggend breek die Here weereens Romeine 12 vir my oop, veral vers 3, wat my vermaan om nie te veel van myself te dink nie! Ai! Die liewe “self”, die “eie ek” wat graag dink ek weet altyd beter, wat graag in beheer wil wees!

 

My stryd is egter nie net teen my eie ek nie. Die wêreld met sy toenemend humanistiese (en erger) uitkyk, vertel vir my hoe belangrik “ek” is, hoe om op my regte te staan, op hoeveel ek geregtig is. Dit klink mos “aantreklik”?

 

As ‘n Jesus-volgeling, kan ek eerder saam met Johannes die Doper sê: “Hy moet meer word en ek minder.”My eie ek mag nie die belangrikste persoon in my lewe wees nie – Jesus is die Een, wat die voorkeur en die eer moet kry. Daarom is dit beter om te vra: “Wat sou Jesus doen?” Dan kan ek aan die begin van elke dag, soos John Maxwell, vra: “What can I do today to add value to someone else’s life?”

 

Sal mense, wat vandag oor my pad kom, Jesus deur my lewe kan leer ken? Ek kan begin met daardie SMS of WhatsApp boodskap, wat ek nou dadelik kan stuur. Of met daardie klein liefdesdaad, wat ek aan my “moeilike” lewensmaat of tiener kan bewys deur te sê: “Jy is kosbaar en waardevol ook vir my.”

 

 

Bình luận


bottom of page