Wat pas is eerlikheid
top of page

Wat pas is eerlikheid


Gun my nog een geestelike waarde uit 'n Jane Austin-verhaal. Wat min mense weet, is dat Jane Austin 'n Christen was en 'n aktiewe navolger van Jesus. Sy het egter haar geestelike waardes nie prekerig oorgedra nie, maar die belangrike Bybelse beginsels van opofferende liefde, waarheid, eerlikheid en integriteit met styl en smaak in haar stories gekommunikeer. Sy het hierdie geleefde lewenslesse ook gewoonlik in die konteks van soms komplekse romantiese verhoudings tussen mans en vrouens geplaas. Sy maak geen geheim daarvan dat sekere mans en vrouens beter by mekaar pas as ander nie. Dat sekere mense beter pas as ander het egter min te make met mense se persoonlikhede, maar veel eerder met waardes.


In die boek Emma is daar 'n toneel, wat haar siening oor eerlikheid en integriteit in 'n romantiese verhouding (en vriendskap) baie duidelik oordra. Emma, die hoofkarakter in die boek, is besig om 'n skildery te verf van een van haar vriendinne te verf. Mnr Elton, 'n karakter in die boek, wat smoorverlief op haar is, smeer haar deur die verloop van die verhaal om elke hoek en draai heuning om die mond. Hy is immers smoorverlief. Terwyl sy skilder, fladder hy om haar en gee die een kompliment na die ander, vertel vir haar hoe ongelooflik goed haar skilderwerk haar vriendin uitbeeld.


Wat 'n kontras egter toe nóg 'n manlike karakter by die skildertoneel opdaag, naamlik Mnr Knightley. Toe laasgenoemde Emma se skilderwerk sien, sê hy dadelik:


You've drawn her too tall.


Later in die verhaal is Knightley ook die een wat haar ernstig berispe, nadat sy baie lelik was met een van haar vriendinne was. Onder andere het hy haar tereggewys met dié harde woorde:


Badly done, Emma! Badley done!


In vandag se liggeraakte kultuur sou Knightly summier ge-cancel word weens sy eerlikheid. As hy dit op Facebook gesê het, sou hy dadelik unfriend word. Gelukkig skryf Austin egter in die 1800’s. Vir ons mag Knightly se woorde op die oor af baie krities klink, maar miskien sal ‘n bietjie agtergrond hier help. Dit was nie net hy, wat haar gekritiseer het nie. Sy kon dieselfde met hom doen. Verder was Mnr Knightley en Emma vriende van kindsbeen af. Van jongs af was hulle beste vriende en het mekaar baie goed geken. Deur die boek beskryf Austin hulle diep vriendskap amper as dié van 'n sussie en 'n boetie. Hulle kon natuurlik soos 'n boetie en sussie baklei ook. Hulle vriendskap en lojaliteit het egter deur die jare die toets van die tyd deurstaan. Uiteindelik trou Emma ook met die eerlike Knightley, eerder as met die vleierige Mnr Elton. Dis presies Austin se punt. Die persoon wat by jou pas, is die een wat dit sal waag om liefdevol eerlik met jou te wees.


Vermy bloot vlyerige mense, sou Austin sê, want jy gaan nooit weet waar jy met hulle staan nie. Vertrou die vriende, wat jou werklik ken en wat jou lief genoeg het om eerlik met jou te wees, omdat hulle eerlik en opreg in die groei van jou karakter geïnteresseerd is. Mense sal mekaar nooit goed genoeg kan leer ken, of mekaar se karakter kan vorm sonder genoegsame eerlike debat en gesprekvoering nie.


Dawid sê in Psalm 139:23-24:


Deurgrond my, o God, deurgrond my hart,
ondersoek my, sien tog my onrus raak.
Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie
en lei my op die beproefde pad!

Wanneer ons hierdie gebed in opregtheid bid, kom hierdie deurgronding en ondersoek deur God, nie soos weerlig uit die hemel nie, maar heel dikwels deur goeie vriende en familie se kommentaar en terugvoer. Daarom het ons mekaar se eerlikheid broodnodig.


Deur ons eerlike, opregte, en liefdevolle woorde, kan God ons heilig maak.

bottom of page