Wat Netflix ons kan leer oor moraliteit
top of page

Wat Netflix ons kan leer oor moraliteit


In hierdie My Wêreld nuusbrief skryf Roedolf Botha oor wat ons by Netflix kan leer oor moraliteit.
Wat Netflix ons kan leer oor moraliteit

Ek het heelwat skeptiese vriende, wat glad nie glo nie, en ek moet sê al stem ek nie saam met ongeloof nie, het ek groot simpatie daarmee. Een van die dinge wat egter vir my geen sin maak nie en dwars in die krop steek, is die populêre skeptiese siening dat ‘n mens God nie nodig het om liefdevol of moreel op te tree nie.


Een van die nuutste reekse op Netflix ontmasker hierdie dwaling, dalk sonder dat die vervaardigers dit besef. Ek praat spesifiek van die reeks Hunters. Dit speel af in die sewentigerjare en handel oor ‘n oorblywende groep Nazi’s wat na die Tweede Wêreldoorlog, geregtigheid ontsnap het, deur hulleself te vermom en na Amerika te vlug. Hulle het hulleself tuisgemaak in die VSA, vir hulleself nuwe werksgeleenthede geskep en leef steeds hulle ou Nazi-ideale uit, nou in die geheim. Ondergronds is hulle steeds besig om bymekaar te kom en steeds te streef na ‘n Nuwe Wêreldorde, wat sonder Jode of Swartmense bestaan. Hulle blatante haat vir ander rasse, wat hulle as minderwaardig beskou, hulle Blanke-arrogansie en hulle donker politiese vooroordele is vir die kyker skokkend om te beleef.


Wat wel interessant en relevant is – veral vir hierdie gesprek – is die motivering en regverdiging, wat hulle gebruik vir hulle immorele en hatige lewensfilosofie. Hulle steun uiters swaar op die Evolusieleer om aanspraak te maak daarop dat ander rasse nie die reg verdien om te oorleef nie. Een van die mentors van hulle denke, wat in byna elke episode genoem word, is Charles Darwin en sy boek Origin of the species. Dit maak filosofies geheel en al sin, want evolusie se primêre meganisme is Natuurlike Seleksie, wat sekere sterker spesies en mense as’t ware uitkies om te oorleef en ander weer swakker maak om uit te sterf. Dis die wet van die natuur: Die swakkes sterf en die sterkes oorleef. Daarom moet die lewe so aanvaar word.


Dis juis hiermee waarmee die Neo-Nazi’s in die Netflix-reeks saamstem. Hulle beskou hulleself as die sterkes in die natuur, wat moet oorleef en regeer. Die Jode, mense van kleur en ander rasse word as swakkes beskou, wat moet uitsterf. Volgens hulle is dit sterk mense se genetiese reg om te domineer. Indien daar dus geen God bestaan nie en die natuur die hoogste vorm van moraliteit is waaroor ons beskik, dan maak dit geheel en al sin! As die natuur ons hoogste morele wet is, dan is dit mos reg dat die swakkes uitsterf en deur die sterkeres gedomineer word. Dis tog wat natuurlik is! Dan maak dit ook nie sin om vir armes en swakkes in die samelewing te sorg nie. Dan bestaan daar nie iets soos moord nie, want om iemand te vermoor, beteken slegs om die wet van die natuur te volg! Dan kan dit tog nie verkeerd wees nie.


Daarby bedoel ek nie:

  • Dat Darwin ‘n voortydse Nazi was nie. Inteendeel.

  • Dat ateïste immoreel is en die wêreld wil uitmoor nie. Baie nie-gelowiges is dikwels meer liefdevol en moreel as wat ék is. Baie godsdienstige mense is wreder en meer liefdeloos as baie nie-gelowiges.

  • Dat Evolusie noodwendig on-Bybels is nie. Die Bybel se skeppingsverhale maak inderdaad ruimte daarvoor dat God op baie maniere kon skep, ook met Evolusie as ‘n moontlike meganisme. Geleerde gelowiges soos Francis Collins noem homself byvoorbeeld ‘n evolusionêre teïs. Daarmee bedoel hy dat evolusie ‘n God-begeleide proses is, wat deur Hom gebruik word om spesies te laat ontwikkel.


Die punt is egter dat indien die natuur alleen ons geen gesonde moraliteit bied nie, ons God nodig het as gesag bó die wet van evolusie om vir ons te sê wat reg en verkeerd is. Die wet van die natuur leer veral nie vir ons om genade te betoon aan mense wat dit nie verdien nie, of om liefde te hê vir jou vyand nie. Dis immers natuurlik en dierlik om vyandig op te tree.


Nee, vir ‘n genadige liefdesmoraliteit het ons Jesus nodig, wat ingryp bo die wet van die natuur en vir ons sê:


Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. (Matteus 5:39)

En:


Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg. (Matteus 5:44)

Indien God die Skepper is, beteken dit dat Hy ook die Koning is oor die natuur en dat die natuur nie die laaste sê het oor reg en verkeerd in ons lewens nie.


Dankie tog dat Jesus nie gesê het: Volg die natuur nie!


Hy het gesê: Volg Mý.


Wat ‘n verskil maak dit nie!

bottom of page