• Stephan Joubert

Wat ‘n wonderlike reënboog van genade!


Wat ‘n wonderlike reënboog van genade!

Lees 1 Korintiërs 12:8


Wanneer die Here my vrymaak sodat my aandag onselfsugtig begin wegskuif na ander mense toe, dan ontdek ek ‘n splinternuwe wêreld. Dan loop ek in God se reënboog van genade vas, as ek sien hoe Hy mense met unieke gawes oorlaai. Dan sien ek hoe Hy aan een gelowige ‘n besondere gawe van wysheid gee om op die regte tyd die regte ding te sê. Of hoe die Gees aan iemand anders die vermoë gee om die regte insig in God se wil te hê. Ook sien ek midde in Sy genadereënboog mense, wat die genadegawes van genesing ontvang het (vers 9), of gawes vir die doen van kragtige dade, profesie, onderskeiding, vreemde tale, die interpretasie hiervan, en noem maar op (vers 10). So stort die Gees Sy liefde in sigbare, tasbare vorms op Sy mense uit.


Wat ‘n wonderlike God dien ons nie! Kyk net hoe mooi beskilder Hy mense se lewe deur Sy genade. Dis Hy, wat uit genade, gewone mense oprig om kragtige dade te doen. Of om in ongewone tale te praat. Of om met wysheid ‘n pad vir die evangelie in ‘n dwase wêreld oop te breek. Sien jy ook die veelkleurige genade van die Gees in Sy kinders raak? Verheug jy jou gereeld daaroor dat Hy so goed is om Sy mense met sulke wonderlike gawes toe te rus?


Gebed:

Wat ‘n wonderlike God is U, o Heer, om gewone mense so mooi te maak tot U eer! Amen.