Wat het vrye toegang tot jou kop?
top of page

Wat het vrye toegang tot jou kop?


In sy nuutste Goeie Nuus vra Stephan Joubert wat het vrye toegang tot jou kop?
Wat het vrye toegang tot jou kop?

Jy is wat jy dink. Dit waarvan jou kop vol is, lek uit in die res van jou lewe. Dit wat jy deur die hekke van jou kop inlaat en daar verwelkom, bepaal jou denke, jou emosies, jou perspesies, en jou gedrag.


Terloops, jou gedagtes gebeur teen ‘n verbysterende spoed. Impulse word van een senuwee-eindpunt na die ander in die brein teen snelhede van oor die 300 km/s oorgedra. So reken een breinkenner. Vinnig, nè! Boonop dink jy in beelde, klank en gevoelens, nooit in tekste nie. Met ander woorde, as jy aan iets terugdink, dan sien jy nie ’n gedrukte teks voor jou geestesoog, waarop alles in ’n 12 Punt Roman-lettertipe opgesom word nie. Jy dink óf visueel (“ek sien wat jy bedoel”), óf by wyse van gehoor (“ek hoor wat jy sê”), óf gevoelsmatig (“dit wat jy sê, het my diep geraak.) Jou bewussyn is die plek, waar jou gewete heel eerste gesetel word. In jou denkende brein word goor gedagtes en emosies en impulse gestop. Of nie. Daar word God-verheerlikende gedagtes verwelkom. Of nie. As jou gewete fyn deur die Gees ingestel is, volg die res van jou lewe agterna.


Wil jy nie vandag ’n bietjie nadink oor dit wat jy alles by die hekke van jou kop inlaat nie? As dinge immers hier verkeerd loop, krap dit jou hele lewe deurmekaar. Moenie met goor gedagtes en sondige prentjies in jou kop rondspeel nie. Sulke verkeerde prentjies sal dadelik gif kry. Hulle moet doodgemaak word, anders gaan jy kort voor lank begin doen wat jy dink. Paulus sê in 2 Korintiërs 10:4-5 ons kan vyandige gedagtes arresteer in die Naam van Christus. Doen dit! Gee vandag jou kop doelbewus vir die Here. Hoe meer jy jou daarin oefen om jou gedagtes en jou wil en jou emosies doelbewus op Christus te fokus, hoe meer begin nuwe gedagtepatrone in jou kop te vorm. Dan begin jy God regtig verheerlik in wat jy dink.


bottom of page