Wat die derde vlaag ons van geloof kan leer
top of page

Wat die derde vlaag ons van geloof kan leer


In sy nuwe My Wêreld nuusbrief, skryf Roedolf Botha wat die derde vlaag ons van geloof kan leer.
Wat die derde vlaag ons van geloof kan leer

Daar is een eienskap van Jesus-navolging, wat vandag broodnodig is. Tog is dit so skaars soos hoendertande. Die uitbreek van die derde Covid-vlaag bevestig die nodigheid van hierdie spesifieke eienskap. Alhoewel sommiges al die kopskuif gemaak het dat Covid heel moontlik nog ‘n rukkie met ons gaan wees, is ander weer van voor af moedeloos en vuisvoos. Dis geheel en al te verstane. Ons leef immers in moeilike en stormagtige tye. Daar is egter mense wat van die begin af geestelik probeer oorleef het deur kontekslose Bybelversies, wat rondgestuur is, asook geestelike boodskappies en soetsappige prentjies wat op al die sosiale mediaplatforms geplaas is. Dis nou nie meer genoeg nie. Daar is iets meer en dieper nodig om staande te bly.


Jesus-geloof is gemaak vir stormagtige, donderwolktye. Die evangelie voorsien dus vir ons hierdie onontbeerlike eienskap, wat ons so broodnodig het. Ek praat van die behoefte en gebrek aan geestelike taaiheid. In Engels sou ons kon praat van mental toughness. Die Bybel praat bloot van volharding. Volharding is om deur opgeepunte te breek en eenvoudig deur te druk tot aan die einde, ongeag wanneer daardie einde ook al mag aanbreek. Volharding kan nie geskied sonder geestelike taaiheid nie. Dis asof so baie mense vandag hulle geestelike brandstof daarin vind om slegs in die oomblik te wil goed voel. Wanneer die gevoel van hoop of positiwiteit egter uitgewerk is, is daar geen onderliggende vasbytkrag om hulle op koers te hou nie.


Dis wat geestelike taaiheid so belangrik maak. Dit vra nie hoe ek voel nie; dis nie afhanklik van eksterne omstandighede nie; dit word nie heen en weer geslinger wanneer emosies of omstandighede fluktueer nie. Dit hou eenvoudig vol en hou aan in die regte rigting beweeg, ongeag die storm, wind of onweer. Daar is sekere geestelike oorwinnings, wat ons slegs kan beleef deur eenvoudig aan te hou in die aangesig van alles, wat die teendeel uitskree. Baie van die eerste gelowiges het ook so gevoel. Die Hebreërskrywer stel dit so (12:1, 3):


Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde, wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof... Hou Hom voor oë, wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.


So die derde vlaag is hier. Wat moet ons doen?

  • Hou aan glo in Jesus.

  • Hou aan om jou oog op Hom te hou.

  • Hou aan glo dat Hy jou oorweldigend lief het.

  • Hou aan glo dat Hy met ons is.

  • Hou aan stry teen sonde.

  • Hou aan om die wedloop te hardloop.

  • Hou aan bid.

  • Hou aan Bybel lees.

  • Hou aan vashou.

  • Hou aan om vir mense lief te wees.

  • Hou aan om jou lewe elke keer opnuut aan te pas by nuwe veranderinge, wat die lewe na jou toe slinger.

  • Hou eenvoudig aan. Niks meer nie, niks minder nie.

Jy hoef nie te wag vir nog ‘n bevestiging nie; of nog ‘n versie; of nog ‘n hoendervleisoomblik; of nog ‘n gesprek; of nog ‘n stem uit die hemel nie.


In Jesus het ons alles wat ons nodig het. Doen wat Hy doen.


Hou eenvoudig aan.

bottom of page