“Wat as?”
top of page

“Wat as?”


Jy ken daardie dodelike duo. Ek praat van daardie gevaarlike twee woorde: “Wat as..?” Wat as Eskom nie regkom nie? Wat as beurtkrag toeneem? Wat as die onderwys in duie stort? Wat as misdaad nog toeneem? Wat as my gemeente krimp en moet toemaak? Wat as my geld nie gaan hou nie? Wat as daar nie werk vir my kinders of kleinkinders gaan wees nie?


Teveel mense hou hulleself gevange met sulke wat-as-scenarios, wat heeltyd afspeel in hulle koppe. Gebeur dit dalk met jou ook? Dan is hier een feit, waarmee jy moet rekening hou: Hoe meer jy met sulke negatiewe scenarios werk, hoe meer wen kommer en negatiwiteit in jou lewe. Natuurlik mag jy vrae vra oor die toekomsvra. Jy moet ook vooruit beplan. Maar dit is pure dwaasheid om jou lewe te beplan op grond van donker projeksies. Jy hoef nie ander mense na te volg wat hulle lewens op sulke wankelbare wat-as- fondamente probeer bou nie. Jy hou immers die Here se hand vas. Hy dra jou. Nee, dit beteken nie jy is immuun teenmoeilikheid nie. Of jy is gevrywaar teen al die stampe en stote van die lewe nie. Inteendeel! Dit beteken jy volg die Here voltyds na, wat sin en betekenis gee jou lewe gee. Selfs al word sulke wat-asse partykeer ook waar, dan is jy steeds nie ’n slagoffer daarvan nie. Jy is nooit passief uitgelewer aan die lewe nie. Jou lewe word immers vir ewig op die Ewige Rots, wat nooit wankel nie, gebou. Hy maak jou stormbestand, soos wat Jesus Self ons leer in Matteus 7. Vertrou Hom met jou lewe. Durf elke diep donker dal en elke groen weiveld saam met die Here as die Goeie Herder aan.

bottom of page