• Roedolf Botha

Ware omgee is nie emojis nie - dis moeite


Dis vir ons te lekker en gemaklik om op sosiale media vir mekaar gesiggies, thumbs ups en ander visuele uitdrukkings te stuur. Ek moet sê dis soms nogal gepas om eerder deur middel van ‘n prentjie uiting te gee aan my emosies as deur middel van woorde. Ons ken almal die bekende uitdrukking “one picture is worth a thousand words”. Soms sê ‘n emoji net meer as wat woordelikse uitdrukkings kan sê. Afhangende wat watter app jy gebruik, is daar soveel om van te kies!


Soos met alle goeie goed het hierdie praktyk egter ook ‘n donkerder kant. Dit gebeur veral wanneer iemand deur swaarkry ontnugtering beleef, of deur die een of ander vorm van moeilikheid gaan. Of wanneer iemand eenvoudig ‘n uitdrukking van liefde nodig het. Dan kom ek agter dat ek soms in die versoeking kom om net ‘n kort boodskappie of voice note te stuur met ‘n hartjie, traan-emoji of hartseer gesiggie. Vir die eerste keer in die geskiedenis kan ek ‘n boodskap van omgee stuur, terwyl ek op my rug op die bed lê, sonder om ‘n vinger te verroer. Vir die eerste keer kan ek “omgee” sonder moeite.


Positiewe en opbouende boodskappe is natuurlik alles goed en wel. Dis immers baie beter as sommige van die negatiewe en toksiese boodskappe, wat soms ronddwaal op die internet. Ons moet egter nie positiewe boodskappe en emojis verwar met ware Christus-gesentreerde en kruisgedrewe omgee nie. Die soort omgee, waarvan die kruis getuig, die soort omgee, wat lewens werklik beter maak, is die soort wat maak dat ek van my rug af opstaan, in my motor klim en die afstand oorsteek na ‘n iemand anders in nood. Ons is so aanmekaar gesit dat ons soms nodig het om werklik ‘n fisiese hand op die skouer te voel, werklik in persoon te beleef hoe iemand fisies ‘n traan saam met ons stort, of werklik te voel hoe iemand ons in sy / haar arms neem en troos.


Kruis-liefde is moeite en vra vir opoffering. Toe God ons liefgehad het, het Hy nie maar net boodskappe uit die hemel gestuur, of deur middel van engele gekommunikeer nie.


Hy het sélf gekom.


Dis moeite. Dis evangelie. Dis die Goeie Nuus!


Kerstyd herinner ons juis weer hieraan: dat God die afstand tussen hemel en Aarde oorgesteek het, die moeite gedoen het om ons te kom ontmoet waar ons is, in ons modderige, messy bestaan. Hy het tussen ons kom woon, by ons kom intrek, ons taal kom praat, die lewe kom voel deur ons vel en die pyn kom beleef soos wat ons dit beleef.


Jesus ken geen offerlose omgee nie, geen op-my-rug-lê-omgee nie.


So kom ons herinner mekaar dat alhoewel emojis aanvaarbaar is, ware omgee méér as dit van ons vra.