Wanneer onvoorwaardelike liefde moeilik is
top of page

Wanneer onvoorwaardelike liefde moeilik is


Wanneer onvoorwaardelike liefde moeilik is

Andy Stanley, pastoor van North Point Community Church, moedig sy gemeentelede aan "to do to one what you would want to do to the world". Al kan jy nie die wêreld red nie, kan jy in een persoon se lewe 'n verskil maak. Hy vertel die verhaal van Lara (skuilnaam), wat een aand na 'n erediens hulp kom vra het. Sy was 'n dwelmverslaafde, wat na sy preek oor vergifnis besef het dat sy Christus in haar lewe nodig het. Met hulle hulp begin sy haar pad van rehabilitasie stap. Sy kom telkens op haar voete, net om weer in verslawing terug te val. Hulle is egter geduldig, vou haar met liefde toe en gee die onvoorwaardelike aanvaarding, wat sy nooit gehad het nie. Na jare se stryd gee sy haar lewe aan God oor en begin haar lewe sonder dwelms. Sy het later selfs met 'n bediening vir dwelmverslaafdes en mense, wat in gewelddadige verhoudings was, begin.


In elkeen van ons se lewe is daar afvlerkmense, mense wat lank vat om op hulle voete te kom en waar verhoudings gekompliseerd is as gevolg daarvan. Dit is dalk 'n alkoholisbroer, 'n suster wat swak lewenskeuses maak, 'n afvlerkkind, wat nie uit die greep van verslawing kan loskom nie. Iemand wat nodig het om op hul eie tyd, in 'n veilige ruimte van onvoorwaardelike liefde, tyd te kry om heel te word.

Soms duur hierdie gesondwordproses jare en dit is dan wat ons moedeloos word en dink hierdie persoon gaan nooit verander nie. Ons sit dan met ons eie seer gevoelens, teleurstelling, frustrasie en moedeloosheid, omdat hierdie persoon herhaaldelik terugval. Ons verstaan nie altyd hoekom hierdie gesondword so lank neem nie en wil dan tou opgooi en wegstap van iemand, wat ons liefde en bystand nodig het.


Dit gaan nie hier om die instandhouding van destruktiewe gedrag (enabling behaviour) of om dié gedrag goed te keur nie, maar om hierdie mense met respek, liefde en menswaardigheid te behandel. Dit terwyl hulle meestal hulself deur die bril van skaamte, skuldgevoelens en minderwaardigheid sien.


Ons Hemelse Vader skryf ons nooit af nie en is altyd daar om ons met liefde en oop arms te ontvang. Vir Hom is dit slegs belangrik dat ons na Hom toe draai. Hy droog ons trane af en maak ons heel en Hy is bereid om op ons te wag. Al neem dit jare, is Hy steeds geduldig. Hy kom tel ons keer op keer op daar waar ons in die modder lê. Sy geduld met ons is oneindig; Sy liefde is soveel dat Hy Sy Seun gee om in ons plek te sterf.


"The proof that you love someone is not that you have warm affectionate feelings toward them. The proof is in your actions, your words and your sacrifice, your willingness to give the best of yourself and your willingness to get nothing in return."

- Katherine Walden

bottom of page