• Roedolf Botha

Wanneer jy besef jý is die probleem!


Een van ‘n leier se grootste nodige tydverdrywe is die identifiseer en uitsorteer van probleme. Leiers het allerhande soorte probleme, soos tanende effektiwiteit, moeilike lidmate of werknemers, geestelike oppervlakkigheid, operasionele struikelblokke, eie skadelike gewoontes, eie gebrek aan selfdissipline, veeleisende aandeelhouers, dalende inkomstes, begrotings wat nie klop nie en nog baie meer.


Die Presbiteriaanse besigheids- en gemeentekonsultant, Tod Bolsinger, beweer dat daar in elke leier se lewe een of twee kere is wat hy in die spieël kyk en – indien hy eerlik is – hy besef dat hý in hierdie geval die probleem is. Die identifisering van jouself as die probleem gebeur uiters subtiel en onder die oppervlak, soveel so dat dit moeilik is om dit vir die eerste keer waar te neem. Die meeste leiers begin met goeie bedoelings en heel dikwels doen leiers so goed soos wat hulle kan hoop om te doen in hulle pogings om mense te lei. Soms gaan dit goed op die oppervlak en die gemeente groei mooi en mense beleef geestelike diepte. Of soms doen ‘n mens al die regte goed en skep ‘n gesonde kultuur, maar tog gebeur die regte goed steeds nie. Die probleem lê dan soms in die strategie of swak elemente in die dinamika van die organisasie, of uitdagings in die verhoudingsnetwerke, of elders.

Wanneer ‘n gesonde leier egter ‘n volwasse en wyse span mense rondom hom het, behoort die kern van die probleem uiteindelik geïdentifiseer te kan word. Soms kan so ‘n span sag, liefdevol en eerlik aan die leier uitwys dat hy, die leier self, die padda in die pyp is. Min leiers val doelbewus en moedswillig is so ‘n gat. Dit gebeur soms sommer maar net as gevolg van heel normale lewensomstandighede in ‘n organisasie se lewe. Dis eintlik heeltemal te verstane. Leiers is mos nie foutloos of volmaak nie en almal van ons, wat lei, het blinde kolle, wat veroorsaak dat ons nie altyd ons eie donker vlekke raaksien nie. Ons het dus nodig dat welwillende vriende ons daarop wys. Hierdie vlekke kan letterlik enige iets in ons samestelling of optrede wees.


Dit kan wees dat:

  • Jy self nie meer groei nie en die gemeente daaronder ly. ‘n Mens kan dit tog net vir so lank fake.

  • Jy rigied geraak het en nie meer die nodige buigbaarheid openbaar om effektief te kan lei nie.

  • Jou kennis – wat gister nog relevant was –verouderd geraak het.

  • Jy uit voeling geraak het met waar jou mense is en hulle die afstand voel.

  • Jy nie meer die kultuur vinnig en akkuraat genoeg kan lees nie en die gemeente se aanpassingskapasiteit daardeur geraak word.

  • Jy jou passie verloor het en mense sukkel om inspirasie uit jou voorbeeld te put.

  • Jy selfgesentreerde besluite neem, wat voortvloei uit onverwerkte pyn uit jou eie verlede.

  • Die gemeente stadig so gesentraliseerd rondom die leier geraak het dat alles subtiel om hom gebou word.

Hoe dit ookal sy, wanneer ‘n leier voor hierdie onaangename realiteit te staan kom, word sy volwassenheid tot breekpunt getoets. Volgens Bolsinger het hy dan een van drie keuses:

  1. Ignoreer die diagnose en doen niks in die hoop dat die organisasie vanself veerkragtig na optimale funksionering sal terugkeer.

  2. Tree terug as leier en gee iemand anders ‘n kans om vir ‘n ruk beter te lei.

  3. Leer om voort te gaan om die gemeente te lei, maar leer aan om dit gans anders as voorheen te doen.

Hopelik kies die leier die derde opsie. Dit sal egter nie maklik wees nie, want ons is opgelei vir ‘n wêreld, wat al lankal besig is om te verdwyn. Trouens, die Israeliese historikus, Yuval Harari, verduidelik dat daar een vaardigheid is wat elke mens in die toekoms sal moet aanleer en dit is om homself ‘n paar keer in sy eie leeftyd te herontwerp (reinvent). Dit is uitermate waar van leiers. Dit beteken dus dat hy homself en sy eie rol van ‘n skoon bladsy af herdink en herbesoek. Geen leier kan dit alleen doen nie en sal ander sterk kreatiewe mense rondom hom moet hê om hom hiermee te help.


Dis pynlik, maar dis wat leiers doen. Leiers het die waagmoed om soms op te staan en te sê: “Vandag is ék die probleem.” Die vrug en uitkomste daarvan is egter – soos met die voorbeeld van die gekruisigde Leier wat ons volg – geheel en al die moeite werd.