top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Wanneer ek die dikmond ouer kind is


In haar nuutste artikel skryf Alet Gardner oor die gelykenis van die verlore seun en hoe ons so maklik net die dankbare vader wat sy dwalende, vuil seun tegemoet hardloop om hom te verwelkom miskyk.
Wanneer ek die dikmond ouer kind is

Wanneer ek na die gelykenis van die verlore seun kyk, sien ek so maklik net die dankbare vader wat sy dwalende, vuil seun tegemoet hardloop om hom te verwelkom. Die deel wat soms baie hard met my persoonlik praat, is wanneer hierdie einste waardige vader uit sy pad gaan om sy ouer seun na die feesmaal te nooi, die seun (dogter) wat in verontwaardigde selfvoldaanheid met ‘n dikmond eenkant sit en broei.


God se liefde vir my strek veel verder as om vir my ‘n lekker warm bad en ‘n stel skoon klere beskikbaar te stel, wanneer ek ‘n slag in die varkhok beland het. Hy kom soek my op waar ek in my liederlike selfsug en selfvoldaanheid sit en mor oor ander se foute en tekortkominge. Hy kom trek vir my die mooiste feesklere aan, haak by my in en stap saam met my die feessaal binne. In hierdie feessaal kan ek saam vier aan die wonder van Sy liefde, wat voldoende vir elkeen van ons se beloftes is.


Ekself moet net onthou dat my sekuriteit en eiewaarde nie geleë is in my prestasies of my onkreukbare lewe nie, maar in die onverdiende liefde van God. Dis tog net wanneer ek ryk is aan God se genade dat ek iets het om uit te deel. Daarom mag ek nooit op my eie goedheid roem nie.


Wanneer ek vervul is met die Heilige Gees, my hele lewe daagliks met ‘n wilsbesluit onder sy beheer plaas, kan ek waarlik rein, geduldig, goed, eerlik en liefdevol wees. Dan sal ek met vrymoedigheid en vreugde aan die feesmaal kan deelneem, al is ek nie die middelpunt van belangstelling nie. Dit gaan tog eintlik daaroor dat ek in die Vader se vreugde deel.


In plaas daarvan om vas te haak by my jaloesie en onvergenoegdheid, kan ek dan eerder ‘n passie ontwikkel om die voorreg van sy liefde, vrede, guns en sy onvergelyklike ononderbroke saamwees met ander te deel. Ek moet maar net bly waak dat my selfgesentreerdheid nie oorneem nie.


‘n Belangrike les wat ek moes leer, is dat ek nie net oneffektief vir God is wanneer ek aanhou sondig nie; dit gebeur ook wanneer ek my eie vooropgesette idees met God se wil verwar. Wanneer Hy in sy liefdevolle genade kies om iemand met “meer” sonde as ek te red, te vergewe en kragtig te gebruik, om hierdie “onverdienstelike” persoon te seën, moet ek daaroor net so dankbaar-bly wees, as wanneer Hy my uitsonder vir ‘n besondere taak of roeping.

Comments


bottom of page