top of page
Writer's pictureAlet Gardner

Wanneer dit donker om my is


“Selfs in die donker nag sing ek sy lied, ‘n gebed tot die God van my lewe.” (Psalm 42:9b NLV)

 

Louie Giglio het onlangs ‘n wonderlike boodskap oor “Defiant worship in the midnight hour” gelewer. Dit het my opnuut laat besef hoe belangrik dit is om die Here onder alle omstandighede te prys, selfs wanneer ek skaars ‘n woord kan uitkry. ‘n Mens voel soms soos wat Salomo dit so goed beskryf: “As jou knieë knak wanneer die krisis opduik, is jou krag maar baie min.” (Spreuke 24:10 NLV) Maar selfs in die moeilikste van omstandighede kan ek kies om eerder my knieë in smeking en aanbidding te buig as om met geknakte knieë in duie te stort.

 

Die arm wat die sterrestelsels in die hemelruim “uitgesprei het soos ‘n doek”, is die arm wat my óf optel en vertroos óf uitkoms gee, soos wat Hy weet die beste in Sy plan inpas. Wanneer ek op die probleem fokus, raak ek benoud, gefrustreerd, kwaad, verbitterd, verskeurd, dwaas en dom. Wanneer ek egter my oë op die Here hou, in totale afhanklikheid en vertroue na Hom toe draai, biddend in Sy Woord delf, versterk Hy my met kalmte, vrede, hoop, insig en krag.

 

Alhoewel ek self nie so sterk is in benoude ruimtes nie, is ek deur die verhaal van 33 Chileense myners aangegryp. Hulle was in 2010 in ‘n koper- en goudmyn vasgekeer – 69 dae lank, 700 meter ondergronds en 5 kilometer van die myn se ingang af. Behalwe dat die manne mooi aan die bestuur van hulle leefruimte saamgewerk het, het hulle as toegewyde Rooms-Katolieke gereeld saam gebid. Daar word vertel dat Esteban Rojas, die myner wat eerste bogronds gekom het, net daar gekniel het en met uitgestrekte arms die Here aanbid het.* Hy kon God dank dat hulle gebede van versoeke en vertroue Sy troon bereik het.

 

Dekades gelede het ek self die waarde van aanbidding en lofprysing in ‘n huwelikskrisis beleef. Dit is wonderlik hoe ek die Here se teenwoordigheid (Sy vrede en krag) ervaar het, wanneer ek lofliedere gesing het in omstandighede waarin ek normaalweg moedeloos en neerslagtig sou raak. Vandag weet ek dat as ek dalk met ‘n bewerige stemmetjie begin sing, ek gou genoeg bewus raak van die Here se liefde en troos, ook in ‘n moeilike situasie.

 

Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Hoekom so hartseer? Vertrou net op God. Ek sal Hom weer loof, al kry ek swaar. Dit is Hy wat my sal help. Hy is my God.” (Psalm 42:12 DB)

 

* Leichman, Aaron J., Prayers Persist as World Witnesses Rescue of Chilean Miners, The Christian Post, 13 October 2010

 

Comments


bottom of page