• Siegfried Louw

Wankel


Wankel

Die water uit my bottel proe soet. Ek los my fiets teen die witkaree sodat die asem makliker kan terugkeer. Met die volgende watersluk gewaar ek die ou man oorkant die pad. Hy betree ʼn houtleer. So een plankie op ʼn slag, met ʼn ruspose na elke klim. Sy bruin broek is netjies geplooi. Die groen kerkhemp is nie meer oral ewe groen nie en sit ook nie meer oral ewe gemaklik nie. Maar ook die hemp het geen plooi nie.


Reën sak effens vinniger op my neer, maar die man lyk in sy skik daarmee. Dan sien ek die rede vir die leerklimmery. Sy hand steek uit na die spierwit watergeut wat hy duidelik onlangs aan sy afdak vasgemaak het. Die leer wankel. Hy vries. Sy linkervoet skuif en die leer glip terug. ʼn Lorrie kom verbygedreun op die nat pad. Die man wankel weer, hierdie keer van skrik.


Wanneer hy opkyk om die dak te inspekteer, sien ek ook skielik meer. Die afdak se plate is al geel en gekraak. Die huis se verf dop af. Die rooibruin stoep met die drie trappe is vol krake. Weerskante van die stoeptrappe is twee reuse swane: plantpotte van sement met twee varkore en lang gras binne-in. Alles lyk effens moeg.


Behalwe die geut.


En die man se ingenome glimlag.


Die geut werk reg.


Tree vir tree daal die man terug grond toe. ʼn Klossie grys hare begin verkeerde kant toe wapper in die wind wat saam met die reën gekom het. Met elke aftrap maak hy seker hy hou sy balans. Iewers gryp hy weer na die wit afvoerpyp. Ek is onseker wie hou vir wie vas. Uiteindelik kom hy veilig onder. Die sementswane buig hulle nekke statig in die druppels, asof hulle bid vir ʼn dag wanneer ook húlle sal kan dryf.


Die man gewaar my en ek maak of ek skielik baie geïnteresseerd is in my fiets se witkareeboom. Maar ek kan nie ophou om aan hom te dink nie. Die Kaapse storms het duidelik eise aan hom en sy huis gestel. Maar vir nou het hy dit reggekry om met elke tree seker te maak hy wankel nie. Dat sy vastrapplek reg is, al staan die leer in die modder.


Miskien help die man wat geute in sy kerkklere bestudeer my met die veranderinge in hierdie tyd. Daar is baie dinge wat gebreek is en aandag benodig. Maar ons kan elkeen iewerste begin. En stap een, is om elke keer seker te maak dat ons met hiérdie tree op vaste grond staan. Stap vir stap. Al reën dit nog.


Psalm 46:2-6:

God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
Daarom is ons nie bang nie,
al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.
Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad,
in die heilige woning van die Allerhoogste.
God is daar; die stad sal nie wankel nie.
God sal hom help nog voor die môre kom.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: