• Roedolf Botha

Vrees is nie verpligtend nie


Alhoewel Paul O’Sullivan ‘n ietwat kontroversiële figuur in Suid-Afrika is, het sy boek my tydens die Julie-vakansie aangegryp. O’Sullivan is ‘n forensiese navorser en aanklaer, wat ‘n paar jaar gelede ‘n welsynsorganisasie, genaamd Forensics for Justice, gestig het. Sy doel met hierdie organisasie is om korrupsie in ons land uit te wis deur hooggeplaaste kriminele te ondersoek en siviele sake teen hulle oop te maak. Sonder dat baie Suid-Afrikaners dit weet, het O’Sullivan deur die loop van die afgelope paar jaar talle korrupte politici, polisiebeamptes en sakemanne laat vonnis en aan die pen laat ry.


Wat my veral opval van O’Sullivan se lewe is sy onverskrokkenheid en dapperheid. Sy en sy familie se lewens was al verskeie kere bedreig, terwyl hyself al ‘n paar kere deur korrupte polisiebeamptes gearresteer is. Tog ontsien hy geen misdadiger nie en hou hy aan om vir geregtigheid te stry, ongeag die gevaar. In verband met die lewensgevaar, waarin hy daagliks verkeer, antwoord O’Sullivan eenvoudig:


I've got my friends here and and I've got my biggest Friend upstairs - God looks after me. If I was meant to be gone, I would be gone already. They've tried to kill me seven times in the last five years. Right now, as we speak, there's a hit out on me.

Wat sy verhouding met God presies behels, weet ek nie, maar die feit dat Paul oorweldig word met ‘n gewaarwording van Goddelike selfversekerdheid, is waar. Vandaar die titel van sy boek, Stop Me If You Can - ‘n vreeslose uitdaging aan elke misdadiger dat hulle maar kan probeer, maar ophou veg vir geregtigheid, sal hy nie.


Dit laat my baie dink aan Jesus se woorde in Matteus 10: 26-31. Daar sê Hy onder andere:


Moet dus nie vir mense bang wees nie... Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.

In hierdie gedeelte berei Jesus Sy dissipels voor dat hulle missie en werk vir die Here hulle dikwels in gevaar sal bring. Dat hulle gereeld in die moeilikheid sal wees, maar dat hulle dit moet verwag en nie moet moed verloor nie. Hy verseker Sy volgelinge dat, as hulle vir Jesus in die wêreld getuig, hulle aan die wenkant van die geskiedenis is al voel dit nie vir hulle so nie. Hy herinner hulle daaraan dat mense in vergelyking met God maar liggewigte is, selfs die geestelike leiers, goewerneurs en Caesars, wat hulle lewens bedreig. Dit maak dus veel meer sin om ag te slaan op wat God dink en doen. Hý het immers die mag! Hy verseker hulle dat God vir hulle omgee, diép omgee. Dat Hy selfs sien en omgee, wanneer ‘n goedkoop mossie op die grond val, hoeveel te meer nie vir hulle nie. (Hulle sou natuurlik nog hulle eie waarde in God se oë sien, wanneer Jesus hulle later met Sy eie lewe loskoop.) Hy verseker hulle dat hulle God vir hulle beskerming sowel as met hulle eie dood kan vertrou. Hy sal hulle beskerm en beskerm en beskerm totdat hulle tyd om na die Vader toe te gaan, gekom het. Selfs dan kan hulle Hom met hulle dood vertrou. Hulle sal nóóit weer van God geskei kan word nie.


Ons is veilig in God se hande, selfs tot die einde toe; daarom kan ons eenvoudig voortbeur om Jesus onverskrokke te bely, sondaars in te sluit, die wêreld te dien, vyande lief te hê en die volke (selfs die Romeine) te seën. Ons kan as’t ware, net soos Jesus self, vir vrees, vir die sonde, dood en korrupsie sê:


Stop me if you can.