Volumeknoppie
top of page

Volumeknoppie


In sy nuutste My Lewe nuusbrief skryf Siegfried Louw oor hoe ons ons volumeknoppie kan sagter draai om beter te luister.
Volumeknoppie

Ek het gehoor van ʼn spreker wat in sy toespraak vir homself by een plek ʼn kantaantekening gemaak het:

“Swak argument. Praat harder”.

Verloor is vir niemand lekker nie. Of dit jou sportspan of die party is waarvoor jy gestem het, wen is net altyd lekkerder. Ons voel natuurlik dieselfde oor ʼn argument. Wie het nou lus om verkeerd bewys te word, wanneer jy ʼn argument verloor? Voeg ʼn skeut adrenalien by ʼn lewendige argument en die volumeknoppie van die gesprek word gou-gou oopgedraai.

Daniel Cohen doen baie navorsing oor die kuns van gesprekvoering en argumentering. Hy het ʼn interessante TED Talk waarin hy verduidelik hoe jammer dit is dat ons oorlogsterminologie by argumentering gebruik. Daar is ʼn wenner en ʼn verloorder. Hy sê dat ons benadering hiermee ons eintlik benadeel, want as jy ʼn argument wen, het jy niks geleer nie. As jy ʼn argument verloor het, het jy ʼn nuwe manier van dink ontdek, wat jy voorheen nie gehad het nie. ʼn Volumeknoppie gaan jou dus nie help as jou bedoeling is om te leer nie.

Wanneer ons na ander luister, kan ons dit doen met die bedoeling om (1) te weet wat om terug te sê of (2) beter te verstaan.

Paulus se boodskap aan die mense van Athene (Hand. 17:22 - 34) is indrukwekkend. Dit is baie duidelik dat hy met respek en wysheid praat met mense wat in afgode glo. Hy het ʼn duidelike argument oor die lewende Jesus. Hy bring die boodskap sonder belediging en sonder ʼn volumeknoppie. Natuurlik ontvang nie almal sy woorde met blydskap nie. Hulle draai hulle eie volumeknoppies harder. Party hoor wel en “wen” ʼn nuwe lewe.

Dit was nie vreemd vir die vroeë kerk dat mense graag hulle ore toegedruk het vir die Evangelie nie. Dan is hulle aangemoedig om eenvoudig aan te hou om goed te doen en reg te leef (byvoorbeeld in 1 en 2 Thessalonisense of Openbaring). Met dade kan jy nie stry nie.

Wanneer Jesus voor Pilatus en die skare voor sy kruisiging verskyn, bly Hy stil. Die skares se volumeknoppies is vol oopgedraai. Goddank besef ons vandag dat die dood aan die kruis ʼn oorwinning was, nie ʼn verloor nie. Iewers raak die woorde toe op. Die weggee van sy lewe het alles geword.

Miskien kan ek vandag my volumeknoppie ‘n bietjie sagter draai sodat ek beter kan luister. Dan sal ek dalk beter verstaan hoe ek met respek ʼn verduideliking kan gee oor die Hoop wat in my leef. Om ander stil te maak, leer my niks nie.


bottom of page