Verskeidenheid en eenheid
top of page

Verskeidenheid en eenheid


Lees die nuutste Heilige Gees artikel deur Stephan Joubert "Verskeidenheid en eenheid"
Verskeidenheid en eenheid

Die groot les wat Paulus vir ‘n verskeurde kerk in Korinte wil leer, is dat die liggaam van Christus hier op aarde, oftewel Sy kerk, soos wat ons dit noem, een is. Christus se kerk is ‘n organiese eenheid. Hier val die klem nie op elke afsonderlike ledemaat nie, maar op die liggaam as geheel. Daarom is dit elke ledemaat se funksie om die groter prentjie raak te sien en in diens te staan van die ganse liggaam. Tussen Christus se mense gaan dit nie oor elkeen se uniekheid, wat die aandag moet geniet nie, maar hoe elkeen se indiwiduele gawes aangewend word tot eer van die Here en tot voordeel van die liggaam as geheel. Verskeidenheid staan dus nie voorop nie, maar eenheid. Andersheid kry nie die aandag nie, maar eenheid ten spyte van verskillendheid.


Te veel Christene is losstaande indiwidue. Miskien is dit die gevolg van ons indiwidualistiese Westerse wêreld, waar elkeen vir haar- of homself leef en waar dit net oor drie persone gaan: “me, myself and I!” Binne hierdie verbruikersmatige wêreld, waar die wenners diegene is wat die meeste dinge op hul naam het, en waar status direk met besittings in verband gebring word, is dit ‘n tragedie as Christene slaafs agterna strompel. Dit dra ongesiens by tot sondige verskeurdheid en selfsug in die kerk. Kom ons kry weer die hart van Christus en werk aan die sigbare eenheid van Sy liggaam.


Gebed:

Here, laat U kerk op aarde meer sigbaar een wees. Amen.

bottom of page