top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Vernedering is nie die einde van jou wêreld nie


In sy nuutste My Wêreld nuusbrief skryf Roedolf Botha oor vernedering en dat dit nie die einde van jou wêreld is nie.
Vernedering is nie die einde van jou wêreld nie

Dit lyk my ons is deesdae so kleinserig dat persoonlike vernedering vir ons die einde van die wêreld beteken. Mense raak steeds net kwater en kwater oor dinge wat ander mense vir hulle sê. Ander kla hulle medemens aan van laster en naamskending. Ek word redelik gereeld geskok deur (gelowige) mense, wat voel dat hulle te na gekom is en dat hulle nou tot die aanval oorgaan (of ten minste op hulle “regte staan”) omdat hulle nooit weer wil toelaat dat mense “so op hulle trap nie”.


Natuurlik is sulke emosionele reaksies te verstane. Ek voel ook soms soortgelyke emosies. Ons kan egter nooit die slagoffer word van ongesonde emosies nie en moet altyd sulke gevoelens laat temper en vorm deur die Skrif en die boodskap van Jesus.


Dan kan ek maar nie help om aan Jesus se woorde in Matteus 5:39 te dink nie:


Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen 'n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.


Een van die gedagtes, wat hierdie gedeelte nogal interessant maak, is die feit dat Jesus praat van ‘n hou op die regterwang. Want as die meeste mense regshandig is en so iemand klap jou, dan tref hy jou tog op die linkerwang. Die antwoord lê die historiese agtergrond van die eerste eeu: In Jesus se dag was die grootste belediging en vernedering, wat jy denkbaar sou kon beleef, wanneer iemand jou met die rughand deur die gesig slaan. Die Joodse rabbi’s het beweer dat ‘n hou met die rughand dubbeld so vernederend is soos ‘n gewone klap met ‘n voorhand. Dis Jesus se punt. Hy praat hier van ‘n vernederende rughand deur ‘n regshandige persoon. Dan alleen sal so ‘n hou iemand op die regterwang tref, soos beskryf in die teks. In ‘n tyd waar eer en skaamte ‘n geweldige deurslaggewende rol in die samelewing gespeel het, was die ontvang van so ‘n hou in die openbaar ‘n onhoudbare en onvergeeflike vernedering.


Ons weet dat hierdie woorde van Jesus nie beteken dat ons nie moet opstaan teen reg en geregtigheid nie. Inteendeel. Jesus se woorde daag egter die eerste eeuse eer-en-skaamte-kultuur - en ons eie kultuur van selfbelangrikheid - direk uit. Dis ‘n oordrywende voorbeeld, waarin Hy eintlik twee fundamentele sake probeer kommunikeer:


1. Geweld, beledigings of enige vyandige gedrag werk soos ‘n lang ketting. Die een belediging gee geboorte aan die een of ander vergeldende reaksie en dit gee geboorte aan ‘n volgende en dit weer aan ‘n volgende. En so hou dit aan totdat die lang ketting van vyandige aksies ‘n samelewing so toksies maak dat almal later vir mekaar kwaad is. Dan wil almal oorlog maak. Jesus se punt is dat ons die sout en die lig van die wêreld is (Matteus 5:13 - 16). As ons die sout en lig is, moet die ketting breek by óns! Óns moet die siklus van geweld en vyandskap by óns laat eindig. Geweld of belediging moet altyd sy eindbestemming by ‘n Christen bereik.


2. Om die ketting van geweld en vyandskap te kan breek, moet ons ons eie ego’s kruisig. Die vernederings is vir ons so groot, heel dikwels omdat ons ego’s so groot is. Ons swem heeltemal teveel in die oseaan van ons eie selfbelangrikheid. Wanneer Jesus ons dus maan om die ander wang te draai, dan probeer hy sê dat dit juis nie oor ons gaan nie, maar oor om die vyandige siklusse in die samelewing te stop sodat ander nie ook daaronder ly nie.


Jesus slaan ons juis weer vir ‘n ses met die voorbeeld, wat Hyself gestel het. Hy het al die reg in die wêreld gehad om vernederd aan die kruis te voel. Hy is immers deel van die Goddelike Drie-eenheid! Hy is dan die Messias! Hoe durf mense Hom naak aan ‘n kruis spyker!


Tog het sy vergifnis en liefde van die daardie einste vernederende kruis afgerol tot in die arms van die einste mense, wat Hom daar vasgespyker het.

Comments


bottom of page