• Liezel Lüneburg

Verlies en die menslike toestand


In haar nuutste My Lewe nuusbrief, skryf Liezel Lüneburg oor "Verlies en die menslike toestand"
Verlies en die menslike toestand

Verlies hang soos ’n grou, digte mis oor die mensdom. Nie net verlies aan geliefdes nie, maar verlies aan gesondheid, vryheid van beweging en finansiële stabiliteit. Ook beheer oor emosies, hoop en somtyds geloof. Dan is daar die skreiende verlies aan menslike kontak en aanraking. Selfs die algemene verlies aan “common sense”, takt en begrip wanneer brandpunte bespreek word.


Verlies vorm ‘n ongemaklik deel van die menslike toestand en niemand kan dit vryspring nie, veral nie in die tyd van COVID-19 nie. Om die waarheid te sê en soos Michel de Montaigne opgemerk het: Every man has within himself the entire human condition. Maar wat presies is die “menslike toestand”? Dit omvat die totaliteit van menslike ervaring en lewe en die manier waarop ons daarop reageer. Dit is ’n konsep waaroor filosowe, waaronder vele ateïste, sedert die begin van die mensdom filosofeer en verskil, maar die eintlike punt, waarby ek wil uitkom, is die gelowige se reaksie op die menslike toestand.


In die begin was die menslike toestand ideaal en verlies het nie deel van Adam en Eva se verwysingsraamwerk gevorm nie. Almal van ons ken die verhaal van hoe dinge lelik skeefgeloop het. Sedertdien is mense moreel geruïneer en van nature onderworpe aan hartseer, verlies, sonde, skuldgevoelens, dood en al die ander tragiese toestande wat deel van ons lewens vorm. Ons almal is in sonde gebore en die ewige dood is ’n potensiële uitkoms vir een en elk, soos Paulus se harde woorde in Romeine 3 verduidelik: Niemand is regverdig, goed of verstandig nie. Mense dwaal af, hulle skel en beledig God en mekaar, bedrieg, lieg, verwoes en tree disrespekvol op.


Maar ons moenie ophou lees by hoofstuk 3 nie – dit is geskryf om die wonderlike nuus in hoofstuk 4 te aksentueer: Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.


Net God se liefde kan die menslike toestand positief beïnvloed en die las van verlies en swaarkry ligter maak. Ons lewe met die vooruitsig dat die ewige lewe en vrede binne elkeen se bereik is!


Pous Francis het vroeër vanjaar ’n wonderlike boodskap gebring: By taking on the frail human condition, God showed his love for humanity and his desire to share in people’s joys and sufferings... God made the “bold” decision to become human to tell us, to tell you, that he loves us like that, in our frailty, in your frailty, right there, where we are most ashamed, where you are most ashamed.


Die Here Jesus Christus, die groot Trooster, het mens geword en sodoende kom wys dat God ons harte ken, dat God die menslike toestand nie net verstaan nie, maar ook kan verander en die lyding en verlies, wat so bitterlik pynlik aan ons menswees vasgeskroef is, ligter kan maak. Hy staan ons in ons swaarkry by, selfs as ons nie woorde het om te bid nie.


Maak tyd om Romeine 8 te lees, veral as jy voel dat die verlies en seerkry ondraaglik swaar op jou gemoed rus.