Vergeet van nog ’n sarsie anti-Kersfees klagtes
top of page

Vergeet van nog ’n sarsie anti-Kersfees klagtes


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief om te vergeet van nog ’n sarsie anti-Kersfees klagtes.
Vergeet van nog ’n sarsie anti-Kersfees klagtes

‘n Mens kan darem ook nie deur enige Kersfeesseisoen gaan sonder om die normale sarsie klagtes aan te hoor oor die kommersialisering van hierdie feestyd nie. Ek onthou in my kinderdae was daar ‘n jaarlikse preek hierteen. O ja, daar is ’n klompie grootmense wat geen jaar laat verbygaan het sonder om te murmureer oor die “verwêreldliking” van Kersfees nie. Ek het nie ’n idee gehad wat hierdie woord beteken nie. Tog het ek agtergekom dit is party mense se tydverdryf om rondom hierdie tyd van die jaar te kla oor alles wat fout is met Kersfees. Vir party is dit ’n heidense fees. Vir ander is een wat gekaap is deur besighede om jou so ver te kry om te koop, koop en koop.


Gaan mense ophou om Kersfees te vier net omdat party mense kibbel oor die verkeerde viering hiervan? Gaan die kommersiële uitbuiting van Kersfeestyd ophou? Beslis nie! Sulke klaery maak eintlik maar net die klaers se eie gal bitter. Of so-iets! Is daar ‘n ander oplossing? Vir seker! Dit begin by jou en my, wat kies om Jesus se koms en nabyheid in hierdie dae te vier. Dit gaan oor jou en my wat vir Jesus as ons Heer en Verlosser ken, wat ook gedurende 2020 se Corona-besmette feestyd die regte feesgewaad dra. Ons feesvierings vertel van die Kind van die krip wat ‘n ander vrede hier tussen ons laat aanbreek het. Ons woorde en ons dade vertel van medelye teenoor diegene wat in hierdie tyd nie feeskos en mooi geskenke het nie. Ons lewens getuig van ons Heer se vrygewigheid; van Jesus se aankoms, wat die engele laat jubel het dat God se vrede die aarde binnegeval het. Dan lyk feestyd in ons eie omgewing anders. Dan tooi ons hierdie stukkie van die wêreld waarbinne ons leef, werk en speel met Christus se vreugde.

bottom of page