Verbruikers
top of page

Verbruikers


Lees Jakobus 1:9 -10


Nou die dag praat ‘n internasionale kerkleier in die Ooste by ‘n samekoms van kerkleiers en waarsku die mense teen die gevare van globalisasie en die populêre verbruikerskultuur, wat oral in ons dag oor die wêreld kop uitsteek. Maar die reaksie was anders as wat hy van sy gehoor verwag het. Een Egiptiese kerkleier het hom na die tyd selfs kom aanspreek, omdat die meeste jonger Arabiese Christene Christenskap vandag met sukses identifiseer. “It means that their children can buy Barbie dolls and they can drive Mercedes,” het hy onbeskaamd bygevoeg. Tragies dat ons beheptheid met al die uiterlike simbole van sukses nie eens meer deur ons navolging van Christus getemper word nie. Jesus het egter ‘n radikaal ander leefwyse voorgehou, een waar die oorvloed van ons besittings nie ons lewe bepaal nie.


‘n Leefstyl waar genoeg nooit genoeg is nie bring in die langtermyn net groot onvergenoegdheid met die lewe mee, selfs al glo ons. Wanneer “die goeie lewe” vir my net nog meer aardse dinge beteken, sonder dat my geloof dit enigsins bevraagteken, dan moet ek dringend Jesus se leringe gaan herbedink. Nog meer, dan moet ek vra of die Gees my regtig van hoek tot kant vervul het en of dit nie maar net ‘n deeltydse verhouding van my kant af is nie. Dan moet dit vandag nog end kry.


Gebed:

Laat my vrykom van die behoefte om net altyd nog te wil hê, Christus. Amen.

bottom of page