Veilige mense asook die regte reisgenote is God se lewende geskenke aan jou
top of page

Veilige mense asook die regte reisgenote is God se lewende geskenke aan jou


Stephan Joubert gee in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief vir ons twee geskenke van God.
Veilige mense asook die regte reisgenote is God se lewende geskenke aan jou

Dit is nie aldag dat mense vir mekaar sê: “Ek voel veilig by jou nie!” Dit lyk my veilige mense is omtrent ewe skaars as veilige plekke hier in ons land. Veilige mense is diegene by wie jy jou hart groot kan oopmaak. By wie jy net jouself kan wees. Dit is diegene by wie jy jou hart kan uitstort sonder om bang te wees hulle sal dit aan ander gaan oorvertel. Sulke mense is kosbaarder as goud. Hulle is die Here se geskenke, wanneer die lewe hard en swaar is. Hulle is die Here se lewende sakdoeke, wat help om trane af te droog en wonde te verbind. By hulle kan jy maar broos wees. En kleinserig. In hulle teenwoordigheid vind jy jouself. By hulle vind jy genesing vir jou moeë siel.

Bo en behalwe sulke veilige mense by wie jy kan afpak, benodig jy ook reisgenote aan wie jy jou geestelike groei kan toevertrou. Ek beskryf dit wat sulke reisgenote moet doen graag met die Engelse term “editibility.” Hierdie woord is afgelei van die term “edit.” Dit hou verband met wat uitgewers van boeke doen. Niemand ken die uitgewers agter al die wêreldbekende skrywers nie, maar dit is daardie einste uitgewers wat hulle skrywers so goed begelei het dat hulle trefferboeke kon skryf. Sulke geestelike reisgenote is broodnodig in ons lewe. Dit is iemand, wat ons stilweg begelei sodat ons ons volle potensiaal voor God kan ontwikkel. Dit is iemand, wat help dat ons die beste storie met ons eie lewe skryf, een wat God verheerlik en ander mense dien. Ons elkeen kort so ’n persoon in ons lewe. Word asseblief self ook ‘n “uitgewer” vir iemand anders, wat besig is om ‘n goeie storie tot God se eer met sy of haar lewe te skryf. Die Here het ons immers geroep om mekaar te help groei in ons geloof.

bottom of page