Vat eerste voor
top of page

Vat eerste voor


In hierdie Goeie Nuus nuusbrief skryf Stephan Joubert oor hoekom ons eerste voor moet vat.
Vat eerste voor

“Vat voor!” Dit het ek gereeld gehoor toe ek doer in my studentedae vir sakgeld by die lughawe se vragkantore gewerk het. Dan moes ek letterlik aan die voorkant gaan dra wanneer ons groot bokse en kratte rondgeskuif het. Gou-gou het ek besef dit is die swaarste kant, maar dit is ook die kant waar jy die beste kan sien waarheen om te loop. Wel, nou is dit sulke tyd. Dit is tyd om voor te vat in die Heer se Naam. Moenie wag vir ander mense nie. Dan gaan jy jouself dood wag. Jy gaan teleurgesteld wees as jy al jou hoop plaas op ander mense om dinge te verander. En om reg te leef. En om ‘n verskil te maak. Jyself is die antwoord op jou eie gebede. Jy is die Here se gestuurde. Jy is Sy een-man- en een-vrou- weermag.


Vat voor en wys die regte koers aan. Praat eerste die taal van hoop. Wees eerste vol liefde vir God en ander. Dit is presies wat Jesus bedoel het toe Hy die goue reël in Matteus 7:12 vir ons gegee het. Onthou dit:

“Alles wat jy wil hê ander moet aan jou doen, moet jy ook aan hulle doen.”

Wees pro-aktief. Doen eerste goed. Bid eerste. Help eerste. Moenie eerste kla nie. Bly eerste stil tussen woedendes. Praat eerste mooi oor die Here en oor ander mense. Dan wys jy hier in 2021 die regte pad aan. Dan is jy nie ’n slagoffer van verkeerde voorvatters nie. Dan hoef jy nie agter dwase aan te strompel nie. Wees eerste die Here se voorvatter en voorloper.

bottom of page