Vashou
top of page

Vashou


Lees Siegfried Louw se nuutste My Lewe nuusbrief "Vashou"
Vashou

Die een Maandag was besonder gewoon. Daar was geen pandemie nie. Geen inperkings nie. Geen vreemde nuus nie. Niks opwindends nie. Selfs die politieke nuus was vervelig en voorspelbaar. My vrou het na haar chemo-sessie kom lê. Sommerso in die studeerkamer, op die oopslaanbank. My arm het om haar gevou en sy het aan die slaap geraak. Ons het weggeraak, so voor die kinders van die universiteit en die skool af sou terugkom. ʼn Ruk later het my oë skielik oopgegaan. Ek het Rachmaninoff se tweede klavierkonsert gehoor. In my vrou se manier van rus. Maar die concerto het vasgehaak. C mineur. F mineur. Herhaal.


Haar asemhaling het verander. Die diepte van haar inasem was dieper en stadiger as gewoonlik. Die stilte voordat sy weer ingeasem het, was lank. Haar lyf se spiere het liggies vibreer. Ek kon net magteloos toekyk wat voor my afspeel. Een of ander binnegeveg, wat ek nie ken nie, het voor my afgespeel. Sommige veldslae is jou nie beskore nie, want dit is nie joune nie.


Daar is ʼn groot verskil tussen ʼn toeskouer en ʼn vegter in die arena.


Min mense let op na die toeskouers. Nie dat ek hulle kwalik neem nie. Hulle veg nie om hulle lewe nie. Die vegters in die arena doen. Ek voel vandag weer so. Ek sien oral mense wat ewe skielik ʼn hewige stryd moet stry. Óf hulle moet self probeer oorleef, óf hulle moet die gevolge van ʼn geliefde, wie se liggaam die stryd teen Covid (of iets anders) verloor, probeer hanteer. Die vegters in die ICU’s en agter isolasieglas moet voortbeur. Die toeskouers moet huis toe en wag. Al wat oorbly, is wag. Jy weet nie wat die uiteindelike nuus gaan wees nie. Jy het geen beheer daaroor nie. Daar is duisende van julle op die oomblik.


Ons sien julle. “Hou aan glo!” roep die mense. “Bly positief!” eggo hulle agterna. Maar net jý weet hoe dit voel om die deur toe te maak en alleen binne te wag vir nuus. En dalk die slegte nuus te kry. Sonder ʼn laaste vashou.


Ons by ekerk wil graag vandag een ding by jou bevestig. Dit is iets wat nie verander het nie. Al is daar ʼn pandemie, die nuus vreemd en die gebeure rondom ons dikwels ontstellend, God hoor jou hulpgeroep. Die vegters én die toeskouers is vir God belangrik. In jou binnekamer met die toe deur, ook dáár is God.


Psalm 40:2-3: “Ek het gesmag na die hulp van die Here.

Hy het na my toe afgebuig

en my hulpgeroep gehoor.

Hy het my uitgetrek uit die put van die dood,

uit die slymerige modder,

my op 'n rots laat staan

en my weer op vaste grond laat loop.”

bottom of page