Vandag is ’n nuwe dag in Jesus se nabyheid
top of page

Vandag is ’n nuwe dag in Jesus se nabyheid


Vandag is ’n nuwe dag. Vandag verskuif die wêreld in die regte rigting. Vandag is die Here se nuwe dag. So vertel die Lukas-evangelie ten minste vier keer vir ons. Hierdie nuwe vandag breek aan, wanneer die engele in Lukas 2:10 bokant Betlehem uitroep: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” Jesus se koms lei God se vandag in. Die Messias en die Verlosser van die wêreld se koms is gelyk aan God se nuwe vandag!


God se nuwe vandag gebeur in die tweede plek ook daar in die sinagoge van Nasaret in Lukas 4, wanneer Jesus goeie nuus voorlees uit die profeet Jesaja. Nadat Hy dit gedoen het, sê Hy vir almal: “Vandag is hierdie Skrifwoord vervul!” Jesus self bring hierdie goeie nuus vandag na armes en stukkendes en verlorenes toe.


Derdens gebeur ’n goeie vandag in Lukas 19, wanneer Jesus by Saggeus tuis gaan in Jerigo. Hierdie tollenaar se dramatiese bekering, asook sy besluit om 50 persent van sy besittings voortaan weg te gee, laat Jesus uitroep dat ’n goeie vandag vir hom en sy huis aangebreek het. God se nuwe vandag bring bekering en hoopvir armes.


In Lukas 23 hoor die man aan die kruis langs Jesus vierdens ook van ’n nuwe vandag, ’n ewige een. Hy hoor hoe hy vandag nog saam met Jesus in die paradys gaan wees. Hoor asseblief die goeie nuus saam met hom: ’n Goeie vandag is op hande vir elkeen, wat paaie met Jesus kruis. Gryp hierdie kans van ’n ewigheid aan. Glo in Hom. Volg Hom. Leef naby aan Hom. Gister is oor en verby. Dit is vir altyd agter die rug. Alles het vandag nuut geword. Jesus se teenwoordigheid is sinoniem met ’n nuwe vandag, tot vandag nog!

bottom of page