Vanaf arme Willem tot goeie Gaius
top of page

Vanaf arme Willem tot goeie Gaius


“Arme Willem.” Nee, ek ken nie vir Willem nie, in elk geval nie hierdie Willem wat ons so jammer kry nie. Maar ons het heelwat van hom gehoor, terwyl ons in ‘n tou in ’n openbare plek gestaan het. Iewers agter ons het mense hardop gesels. Hulle het oor Willem gepraat. Dit het geklink asof hy net mooi niks kon reg doen nie. Dis toe dat my vrou saggies opmerk: “Arme Willem!” Dalk het daardie mense nie besef dat almal rondom hulle ook na hulle gesprek moes luister nie. Of dalk het hulle net nie omgegee nie. Hoe dit ook al sy, dit bly maar moeilik om jou woorde te tel.


Die regte roete wanneer ons in die publiek oor ander mense praat, is om opbouend oor hulle te praat. Die derde Johannesbrief leer my dat ons geroep is om ‘n goeie getuienis oor mekaar se lewens tussen ander af te lê. Presies dit doen Johannes as hy in hierdie kort brief vir ’n kerkleier met die naam Gaius dankie sê vir sy mooi voorbeeld en sy gasvryheid. Gaius het ’n paar Christene, wat hy nie geken het nie, met groot liefde ontvang, toe hulle daar by sy gemeente aangekom het (vers 5-8). Hierdie Christene het dit toe vir Johannes en vir almal in sy gemeente oorvertel. Hulle het ook vertel van ’n ander gelowige, genaamd Demetrius. Hy het so getrou in die waarheid geleef dat almal hieroor gepraat het (vers 12). Ongelukkig was daar ook iemand genaamd Diotrefes, wat onwaarhede versprei het en wat nie in liefde opgetree het teenoor besoekende Christene nie (vers 9-11). Johannes onderneem dan om hierdie probleem persoonlik aan te spreek as hy soontoe gaan.


Ek leer uit 3 Johannes dat ons mooi en opbouend oor ander in hulle afwesigheid moet praat. Ons moet graag vir ander mense vertel van hulle toewyding aan die Here en van al hulle goeie werke. Ons moenie “arme Willems” in die publiek uithaal nie - ons moet eerder elke Gaius en Demetrius, wat getrou op die Here se pad leef, in die publiek uitlig. O ja, as jy dalk in ’n moderne Diotrefes vasloop, wat die waarheid verdraai, dan neem ons dit persoonlik met hulle op.

bottom of page