top of page

Van vervelig na opwindend


Marietjie Joubert skryf in haar nuutste My Lewe nuusbrief hoe ons kan beweeg van vervelig na opwindend toe in ons geloof.
Van vervelig na opwindend

 

In 'n Australiese studie lees ek dat die gemiddelde mamma 228 vrae op 'n dag beantwoord. Kinders vra vrae. Hulle wil weet en leer. Vierjarige dogtertjies vra die meeste vrae, ongeveer 390 per dag. Mammas moet bronne van inligting wees en moet al die vrae kan beantwoord. 

 

Ons grootmense verleer die gevoel om te vra. Ons lewens is soms so voorspelbaar en vervelig. Kinders se lewens is opwindend en vol, want elke dag leer hulle nuwe dinge. Hulle hou aan vrae vra. Gedurende grendeltyd moes ek ‘n nuwe rekenaarprogram leer. Dit was ‘n geweldige uitdaging. Ons moes aanlyn skoolhou en leer om stout kinders aanlyn te beheer en nog steeds kontrole oor jou klas te hê. Dit was vir my nogal lekker om my man iets te leer, wat hy nie van geweet het nie. Gewoonlik moes hý my help as ek met my rekenaar vasgehaak het.

 

‘n Maklike plek om weer te begin leer, is die Bybel. Dalk moet ons weer ons leerharte terugkry. Ons moet weer nuwe skatte in die Bybel ontdek. 'n Mens kan nie geestelik groei as jy nie Bybel lees nie. Ons opgewondenheid oor die Bybel is weg. Weet jy hoeveel hoofstukke het Mattheus? Soek dit op en onthou dit vandag. Dis dalk nie so 'n belangrike feit nie, maar as jy 'n studie van Mattheus maak, is dit uiters belangrik om te weet. 

 

Ons moet versigtig wees dat ons as volwassenes nie ons bekertjies met die verkeerde dinge volmaak nie. Ons teksgedeelte roep ons op om weer soos kinders te word. Ons moet weer 'n opgewondenheid oor die Here kry. Die wonderlike belofte van die Here is iets om aan te gryp. As jy weer soos 'n kind word, sal jy 'n erfgenaam in die koninkryk van die hemele wees. Kinders is die belangrikste in die koninkryk. Om belangrik in God se oë te wees, moet jy dan weer kind word. 

 

Gryp hierdie leerervaring met albei hande aan. Leer elke dag iets nuuts oor God. Dalk kan jy na een van die Bybelskole op e-kerk begin kyk en ‘n onderwerp baasraak. Raak weer opgewonde oor die lewe en die Woord van die Here. Neem aantekeninge as jy na ‘n preek luister sodat jy dit weer na die tyd kan deurgaan. As jy in die aande in die bed sit, moet jy vir jouself kan sê, dit of dat het ek vandag geleer. Skep vir jouself 'n nuwe opgewondenheid in jou lewe. Begin leer. Dit sal jou lewe ingrypend verander. Jou vervelige bestaan sal omgedop word en jy sal ‘n nuwe lus vir die lewe ontdek. As ons weer klein word voor die Here, sal Hy ons weer kan gebruik. Jou waagmoed vandag om iets nuuts te leer, gaan aan jou intense vreugde verskaf! Geniet hiedie nuwe uitdaging en gryp die geleentheid aan om weer kind te word en te leer!


Comments


bottom of page