Van bekering een tot bekering twee (deel 2)
top of page

Van bekering een tot bekering twee (deel 2)


Van bekering een tot bekering twee (deel 2)

Bekering een het gebeur toe ek na God toe gedraai het. Dit was toe ek met my stukkende lewe voor Christus kom buig het. Dit was toe ek in Hom begin glo het as die Here van my lewe. Bekering twee het begin toe ek agterkom God het ‘n totaal ander telbord as daardie een, waarmee ek myself na “bekering een” mee besig gehou het. Vir Hom gaan dit oor die voltydse navolging van Jesus en oor impak in die wêreld, nie oor instandhouding van kerkgeboue en formele strukture nie. Impak gebeur veral in my daarwees tussen nie-kerklikes, stukkendes, eensames, verlorenes, gieriges, rassiste, kapitaliste, losers, wenners… Tydens my eerste bekering het ek gedink dit gaan oor watter kerk se getalle, geboue en begrotings die blinkste is. Bekering 2 het veroorsaak dat ek begryp dit gaan oor my lig, wat in die donker vir Jesus moet skyn. As lewende lid van die kerk moet ek gedurig oorkant die straat aan diens wees.


Bekering twee bevry my al hoe meer van my beursie. In die eerste fase van my geloof het dit oor formele dankoffers gegaan, wat ek een keer per maand in ‘n blitsvinnige saketransaksie kon afhandel. Die res van die maand kon ek wegkom met die moeder van alle verskonings: “Ek gee by my kerk.” Nou is die uitdaging anders. Nou vra die Here elke dag alles! Nou kan Hy enige oomblik op my knoppie druk om te gee, te deel, te bid, te dien. Nou loop Jesus heeltyd in vermomming op my pad in die vorm van armes, huisloses, werkloses…


Bekering twee leer my verstaan kleiner is groter en voor is agter. Aanvanklik wou ek groter dinge vir die Here doen. Toe ontdek ek dat Hy my eintlik net toelaat om “groter” dinge te doen, omdat Hy my nog nie met kleiner dinge kan vertrou nie. Jesus is immers op rekord dat ware grootheid in kleinheid geleë is. Voor is agter en sterk is swak. Alles is andersom en onderstebo in die Koninkryk. Vroeër het ek gehardloop vir voor, meer, groter, beter, sterker, vinniger, hoër, magtiger, wyer… Maar Jesus se oefenveld het my geleer Sy teenwoordigheid en impak is juis ook te vind in kleiner, minder en swakker!

Bekering twee wink alweer vir my. Wat van jou?

bottom of page