• Stephan Joubert

Van A-Z is my lewe genade-aangedrewe


Daardie goeie dinge, wat ons vir die Here moet doen, kry ons nie aldag gedoen nie. Ons struikel soms. Ons maak partykeer droog. Tog weet ons dit gee nooit aan ons die reg om in sondes rond te lê te nie. Inteendeel! Ons weet ons moet reg leef. Ons het geen verskoning as ons dit nie doen nie. Nogtans weet ons God het ons onvoorwaardelik lief. Daarom steun ons so swaar op Sy genade. Met alles in ons hou ons vas aan Hom, watons elke keer genadig is.

Van A-Z is ons lewe genade-aangedrewe. Ons weet Christus het ons gratis en verniet gered. Ons weet ons is voltyds, lewenslank, asook vir ewig en altyd deur Hom begenadig. Die Here het Sy eindelose goedheid en liefde aan ons bewys. En Hy hou aan om dit te doen. Daarom weier ons dat struikelinge en oortredings ooit die hoofopskrifte bokant ons lewe word. God se genade vuur ons aan tot dankbaarheid. Dit dryf ons om reg te leef in Sy teenwoordigheid. Nooit wil ons die Here teleurstel, wat ons elke keer met oop arms terugneem nie. Ons wil nooit Sy hart breek nie. En ons sal ook nie.