• Siegfried Louw

Tydskrifrak


Tydskrifrak

Die laatmiddag verkeer voel aggressief. Die een helfte van die motors probeer voor die ander helfte indruk. Verontwaardig probeer die ander keer. Niemand het lus om hiér te wees nie.


Ek moet gou by die supermark vir melk stop. In die wandelgang praat byna niemand met mekaar nie. Sweterige maskers suig aan sommige se kenne vas. Niemand het krag oor om kwaai te probeer wees met diegene met die uisteekneuse nie. Skoenhakke klak moegerig teen die teëls. Meer as die helfte van die mense stuur stemboodskappe oor hulle fone. Die res probeer luister watter boodskap hulle gekry het. Niemand het lus om hiér te wees nie.


In die winkel se gange moet almal vir mekaar se mandjies koes. Die musiek is raserig en vinnig. Kinders in sportklere soek koorsagtig na ʼn sjokolade of ʼn versnapering, terwyl Ma of Pa seker maak van die brood of die maalvleis se vervaldatum. Party groet mekaar flouerig, want die kos in die hand hoort eintlik al in ʼn kastrol. Niemand het lus om hiér te wees nie.


In die ry is almal weer op hulle fone. “Next customer, please,” gil die arme kassiere vir die derde keer, haar masker met die een hand weggetrek vir ekstra volume. Die twee geselsers voor in die ry hoor dit vir die eerste keer, terwyl die res van ons ongeduldig ons oë rol. Niemand het lus om hiér te wees nie.


Maar die tydskrifte op die rak weet dit.


Foto’s van ʼn wildsplaas voorop die een. Beloftes van ʼn heerlike familiefees op ʼn ander een. ʼn Koel sitkamermuur met plakpapier op ʼn derde tydskrif. Elkeen van die tydskrifte belowe ʼn ander wêreld. En ek sien ons almal wil dáár wees. Ons moet net eers hiér klaarmaak met chaos.


Miskien doen ek dit ook met die res van my lewe.


Ek beoordeel huidige chaos en onrustige omstandighede as iets wat in die pad van my eintlike lewe staan. Asof ek net eers sekere goed moet uitsorteer en klaarkry, voordat ek die lewe kan leef, wat God wil hê ek moet leef.


Miskien doen kerke dit ook: as Covid net eers verby is. As die elektrisiteit net eers weer betroubaar is. As die finansies net eers weer gunstig is. As mense net eers weer vrylik kan beweeg. As korrupsie in die land net eers uitgewis kan word. As dinge net eers weer beter raak…Want niemand wil hiér wees nie. Nie so nie.


Jeremia 29:4 - 7 sê egter vir mense in ongunstige omstandighede: Moenie wag vir beter dae nie. Lewe as God se kinders. “Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het. Bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.” So toe ek ook by die kassiere kom, vra ek moegerig hoe dit gaan.


“Yoh, I am tired already,” antwoord sy, “but I still have to work ‘till tonight.”


“All of the best. Thank you for your assistance,” probeer ek.


Sy glimlag. Dan word die maskertjie van haar mond weggetrek vir die gil: “Next customer, please!”


Niemand wil dalk hier wees nie, maar God is hier. So tussen die piepende kasregisters en die moeë wagte met spuitbottels en ontsmetmiddels. Ons hoef nie te wag vir elders om rus te vind nie.


Of waarvoor wag jý?

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: