top of page

Twee belangrike koersaanduidings vir die regte pad


In sy nuutste Goeie Nuus, skryf Stephan Joubert oor twee belangrike koersaanduidings vir die regte pad
Twee belangrike koersaanduidings vir die regte pad

Hy was op pad Heidelberg toe daar van East Rand Mall se kant af. Maar hy was nie heeltemal seker van die pad nie. Toe stop hy iewers en vra hoe hy moet ry. “Wel, Meneer, jy draai daar by die volgende robot links. Ry dan tot by die vulstasie ... ” sê die man toe vir hom. Net daar onderbreek hy homself: “Nee, wag. Draai liewers regs by die robot en ry weer by daardie winkelsentrum verby ... ” Nadat die man weer vir ’n rukkie stilbly, sê hy toe: “Ek is jammer, Meneer, maar van hier af kan jy glad nie in Heidelberg kom nie!”


Nou ja, op een of ander manier is daar darem altyd ’n pad na jou bestemming toe. Dit is net partykeer moeilik om die regte pad te vind. Gewoonlik wil mens die kortste pad na jou bestemming kies. Ons almal weet egter uit ervaring dat dit soms beter is om die langer pad te neem, omdat dit veiliger is. Of omdat dit ’n beter pad is. Ons lewenspad is ook so. Soms is die langer pad die beter pad. Kom ons wees eerlik: ons is nie elke dag seker oor watter pad vir ons die beste een is nie. As gelowiges wil ons graag weet watter pad vir God die regte pad is. Ons moet elke dag keuses maak oor wat is reg en wat nie. Weer eens, partykeer is die antwoorde hierop nie maklik nie. Jy kan nie maar net jou vingers klap en dan kom daar skielik ’n antwoord van Bo af nie. Partykeer moet jy regtig hard soek na die regte pad. Tog is daar twee belangrike vrae wat jy eerlik moet beantwoord as jy wil koers hou op God se roete:


  • Watter pad in my lewe sal die meeste bydra tot die verheerliking van God se Naam? Kolossense 3:17 en 23 leer my juis dat ek God in alles moet verheerlik!

  • Op watter pad kan ek die lig van die evangelie die helderste laat skyn? Presies dit leerJesus my in Mattheus 5:13-16.

Gebruik hierdie roete-aanduidings elke dag. Dan bly jy koersvas op die Regte Pad.

Commentaires


bottom of page