Toe loop jy saam met jouself… tot by Jesus!
top of page

Toe loop jy saam met jouself… tot by Jesus!


"I pack my trunk, embrace my friends, embark on the sea and at last wake up in Naples, and there beside me is the stern fact - the sad self, unrelenting, identical, that I fled from.”

Dit is die woorde van die skrywer, Ralph Waldo Emerson, in ’n artikel in 1841. Net so! Jy kan padgee, trek, emigreer, verskuif, vlug, oor begin en voor begin, maar jyself gaan elke keer saam. ’n Nuwe buurt, ’n nuwe werk, of selfs ’n nuwe land beteken nie jy is skielik iemand anders nie. Die opwinding van nuwe ervarings en nuwe plekke kan jou dalk vir ’n rukkie laat vergeet van jouself. Maar uiteindelik is dit jou gesig wat elke keer vir jouself terugkyk in die spieël. Jy is jy. Jy is nie iemand anders nie. Jy dink soos jy, praat soos jy, en leef soos jy.


As jy nie tot vrede kom met jouself en met wie jyself is voor God nie, gaan niks help nie. Dan gaan nie eens al die geld, vakansies, besittings of plastiese chirurgie ter wêreld jou tot innerlike vrede bring nie. Dan gaan geen selfhelpkursus of oefenprogram jou tevrede maak nie. Jy gaan steeds in jouself vasloop. Totdat jy nie jou identiteit, jou menswees, jou talente, jou dagtake, jou lewenskeuses, jou vriendskappe, jou alles, in en deur die Here verstaan en beleef nie, sal jy ontevrede wees. Dan sal jy steeds worstel met vrae soos hoekom is jy nie so perfek, mooi, slim, oulik, suksesvol, uitgesorteer, gelukkig, ryk, vernaam of geseënd soos die res nie?


Kom tot rus. Leer asseblief by Maria in Lukas 10:38-42. Sy het aan Jesus se voete rus gevind. Dit is al wat nodig is. Vind jouself in die Here. Kom sit net by Sy voete. Kom sit hier tot jy kleiner groei in jouself … totdat jy verdwyn en Hy alles word. Moenie alweer ’n massa dinge van God vra nie. Hy weet wat jy nodig het. Kom net tot bedaring elke keer; elke dag, maar veral vandag!

bottom of page