Toe gaan die Seun van God dood
top of page

Toe gaan die Seun van God dood


Kan die Kind van God doodgemaak word? Dit is eintlik ’n skrikwekkende vraag, om die minste te sê. Tog is dit die realiteit waarmee die kruis van Golgota ons elkeen konfronteer. Dit wat daar by die kruis gebeur het met Jesus, is in een woord skrikwekkend. Geen twyfel hieroor nie. Jesus se kruisdood is haarfyn georkestreer deur die godsdienstige en politieke magshebbers van die dag. Sy stem moes met geweld stilgemaak word. Presies dit het hulle ook reggekry, - totdat Jesus die dood 'n paar dae later uitoorlê het. Hy wat van alle ewigheid af daar is; Hy wat die ewebeeld en afskynsel van God is, juis Hy sterf daar aan Golgota se kruis. Maar Jesus doen iets vreemds daar in sy sterwensoomblikke aan die kruis: Hy verplaas Homself volledig in ons skoene. Jesus kies om ons lot en al ons sondes een honderd persent Syne te maak. God se Seun vervang sy eie identiteit aan die vloekhout van Golgota met ons s’n sodat daar vrede kan kom, vrede tussen ons almal wat in Hom glo, en die hemel. Jesus se dood vertel dus in dieselfde asem van nuwe lewe vir ons elkeen. Ons glo dit opnuut en met oorgawe. Ons leef uit Jesus se genade.

bottom of page