• Stephan Joubert

Ter wille van mekaar


Lees 1 Korintiërs 12:26


Binne elke liggaam kan daar maar net twee oë en twee ore en een neus wees. Die voet kan nie sê: “Omdat ek nie die hand is nie, is ek nie deel van die liggaam nie.” Elke ledemaat, hoe onbenullig sy taak ook al mag lyk, help om die liggaam reg te laat funksioneer. As ’n ledemaat beseer word, beïnvloed dit die werking van al die ander ledemate. As een ledemaat siek is, trek al die ander ledemate swaarder. Die ganse liggaam se funksionering word soms gekniehalter deur een swak skakel.


Christene is nie fotostate van mekaar nie. Die Here het ons elkeen uniek gemaak. In plaas daarvan dat alle eendersdenken­des in die kerk, dit wil sê al die neuse, ore, monde, hande en voete op ’n hopie moet gaan sit en so die liggaam van Christus net nog verder in stukke skeur, moet ons juis besef dat daar ruimte in die kerk vir ’n verskeidenheid van persone, gawes en take is. Ons almal kan tog nie preek of sing of onderrig gee of mense gesond bid nie. Nee, die Gees het ons so gemaak dat alle Christene mekaar se gawes nodig het. Kom ons maak daarom ruimte vir mekaar. Maar kom ons sien ook om na mekaar deur mekaar aan te moedig om elkeen ons kant vir Christus te bring. Kom ons doen dit goed en tot God se eer, waartoe Hy ons bekwaam gemaak het.


Gebed:

Maak my oë oop vir die behoeftes van medegelowiges, goeie Here. Amen.