Tempels moet soos tempels lyk!
top of page

Tempels moet soos tempels lyk!


In hierdie Heilige Gees artikel skryf Stephan Joubert hoe dit lyk as die Heilige Gees woon binne ons.
Tempels moet soos tempels lyk!

Dit is belangrik dat ons vandag nog eens vir mekaar sê dat die Heilige Gees permanente en eksklusiewe regte op ons lewens het, omdat ons aan Christus behoort. Ons is Syne hier en nou en vir altyd. Hy is ons nuwe Eienaar, omdat Jesus ons tussen die sonde gaan uitsnuffel het en ons toe met sy kosbare bloed gekoop het. Van daardie oomblik af is ons lewens onder hemelse bestuur. God woon voltyds in ons. Daarom kan ons nie doen wat ons wil of leef soos ons wil nie. Die Here duld dit nie.


Voordat ons iets doen, moet ons die Here se toestemming vra. As ons iewers heen gaan, moet ons Hom vra om ons soontoe te vergesel, anders doen ons dinge in ons eie krag. Anders loop ons op plekke rond sonder die Here se beskerming. Dis moeilikheid soek. Sonde is nie ons speelmaat nie. Daarom dat ons nooit op dieselfde plek as sonde moet wees nie. Dan gaan ons sleg verloor. Kom ons volg Paulus se raad in 1 Korintiërs 6 om te vlug as verkeerde dinge dreig om ons in te sluk. Ons liggame is die Here se duurgekoopte eiendom. Laat ons dit dan nie besoedel met dinge wat vir die Here onaanvaarbaar is nie. Laat ons eerder ‘n heilige en welgevallige offer in sy diens wees.

Gebed Heilige Jesus, heilig my hele lewe tot u eer. Amen

bottom of page