top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Tel ’n slag jou eie mat op


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor Jakobus 3 en hoe dit lyk as ons blindgeraak vir ons eie donkertes wat ons onder die matinvee.
Tel ’n slag jou eie mat op

In ‘n ou Amerikaanse sepie, “The king of Queens,” besoek die hoofkarakter Doug, en sy vrou een keer sy ouers. Hulle gaan vier sy hond Rocky se 28ste verjaarsdag. As Doug wonder hoe Rocky so oud geword het, erken sy ouers dat hy eintlik al ‘n paar keer vervang is met ‘n hond wat presies soos die eerste Rocky lyk. Hulle trek eintlik nou by Rocky IV. Dan sê sy ma:

“But we don’t talk about such unpleasant or uncomfortable things.”

Hierop vra Doug se vrou verbaas:

“What do you do with the truth, then?” “We sweep it under the rug, where it belongs!”

antwoord sy. Toe besluit hulle almal daar’s net een Rocky en hy is 28 jaar oud.

Mense hou nie van “ongemaklike waarhede” of “inconvenient truths,” nie. Daarom dat daar soveel matte hier in ons dag is waaronder die waarheid ingevee word. Die koerante, sosiale media en die TV vertel deesdae graag van die owerhede, besighede en selfs godsdienstige se matte waaronder groot waarhede ingevee word. Almal weet baie goed van die res se korrupsie en sondes. Almal verwag dat "hulle" moet verander.


Maar sê nou ons het blindgeraak vir ons eie donkertes wat ook onder die mat beland het. Sê nou ons het toegelaat dat die Here se liefde, deernis en nederigheid plek maak vir verbitterdheid en haat hier in ons eie harte. Sê nou ons leef op die maat van “aardse wysheid.” Jakobus 3:14-16 sê sulke "wysheid" loop hand aan hand met bittere jaloesie, agterdog, woede en onverdraagsaamheid. Sê nou ons vee elke slag sulke donker emosies, wat lynreg bots met die Here se liefdesgebod, onder ons eie mat in. Jakobus 3:17 skryf wysheid wat van Bo kom, vul ons met reinheid, vrede, openheid vir ander, ontferming, sagmoedigheid, onbevooroordeeldheid en goeie dade.


As almal regtig so godsdienstig was, dan sou hemelse wysheid gewen het. Dan sou ons wortels in die hemel geplant gewees het, en nie hier op aarde nie. Kom ons lig ons eie mat ’n slag op en laat toe dat God se sagte wysheid in ons lewe vorm aanneem. Kom ons plant ons eie wortels in die wingerd van die Here en dra die vrugte van wysheid.

コメント


bottom of page