Tegelyk onbekend en bekend
top of page

Tegelyk onbekend en bekend


Lees Johannes 14:17


Aan die een kant is die Gees so bekend en bemind as wat kan kom. Miljoene mense die wêreld oor ken Hom persoonlik. Aan die ander kant is Hy weer vir hordes mense ‘n vreemdeling. Die rede: baie wil Hom nie as eregas in hul lewens ontvang nie. Hulle het nie eens ‘n idee wie die Heilige Gees is nie, omdat hulle nie oop is vir Sy spesiale werking nie. Daarom sien hulle Hom nie in die geloof raak nie. Nog erger, daarom ken hulle ook nie Sy vrymakende werk nie. Wat ‘n tragedie! Hoe tragies dat die Gees, wat aan die een kant die ganse wêreld tot Sy huis gemaak het en orals mense het wat Hom eer, tog ook so onwelkom is in die lewenshuise van miljoene mense.


Vandag is die goeie nuus spesiaal vir jou dat jy, wat Christus aanbid, mag weet jy is deel van ‘n reuse skare mense, wat goed bevriend is met die Gees. Nog meer, jy is binne Sy asemrowende werksterrein. Jy is ‘n lewende bewys van God se goedheid en genade. Jou lewe verkondig luidkeels dat God goed is, omdat die Gees met Sy fenomenale binnehuisversiering ook in jou lewe besig is. Gee aan Hom vrye teuels. Laat Hom toe om jou mooi te maak ... en magneties, sodat ander ook graag die Gees van naderby sal wil leer ken.


Gebed:

Heilige Gees, doen U magnetiese werk in U kerk vandag. Amen.

bottom of page