Só moet ons praat met mekaar
top of page
  • Writer's pictureekerk

Só moet ons praat met mekaar

deur Roedolf Botha

Ek het nou die dag die mees inspirerende les geleer by een van die jongmense in ons gemeente. Ek vermoed hy is so negentien of twintig jaar oud. Dit het begin toe ek ‘n lesing by ons Bybelskool aangebied het. Hy kom na die tyd na my en vra of hy met my ‘n afspraak kan maak. Ek het vermoed hy wil dalk maar net gesels oor ‘n persoonlike geestelike issue of ‘n teologiese uitdaging na aanleiding van die Bybelskool lesing.


Groot was my verrassing toe ons mekaar uiteindelik ‘n paar dae ontmoet by ‘n koffiewinkel. Nee, hy het geen teologiese of geestelike issue nie. Hy wil mý help. Hy deel my toe mee dat hy die Bybellesing baie geniet het maar vra toe:


Oom wil oom graag weet hoe om beter oor te kom na jongmense toe?


Ja, natuurlik, antwoord ek toe. Ek wil regtig. Daar is heelwat jongmense wat ons gemeente se Bybelskool bywoon.


En so deel hy met my ‘n stelling of twee wat ek die aand in die lesing gemaak het wat hy dink kan jongmense dalk as onvriendelik of irrelevant beleef. Ons kuier byna twee ure lank en ek leer so baie by hom. Hy deel met my ‘n paar dinge wat ek kan doen om meer jongmensvriendelik te kommunikeer. Die lekker ding is dat beide ek en hy ryker was na die gesprek. Ek dink toe na die tyd daaroor en som die ervaring so op:


  • Die jongman sit in die lesing by ons Bybelskool, luister na my en hoor dinge wat vir hom vreemd op die oor val.

  • Hy neem inisiatief en maak ‘n afspraak met my.

  • Ons sit saam en sy gesindheid is om my te help om beter te wees.

  • Ons stem nie oor alles saam nie maar hy is nie geïntimideer nie en ek probeer my bes om nie liggeraak te wees nie.

  • Die atmosfeer tussen ons is lig en gemaklik en ons luister lekker na mekaar.


Hy sê vir my: Oom as alle gesprekke in ons land so kan verloop sal die wêreld darem ‘n baie beter plek wees! Ons kuier so lekker dat ons ‘n opvolgafspraak maak.


In ons vorige nuusbrief het ek Jakobus 2:19 aangehaal waar die skrywer ons maan om te luister en nie te gou kwaad te word nie. Hoe bevrydend om dit te kan beleef in ‘n konkrete gesprek! Die Here gee vir ons in Jesus al die gereedskap om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak en ons kan dit doen deur die manier waarop ons met mekaar praat: oud met jonk, wit met swart, arm met ryk.


Hoe nodig het Suid-Afrika nie hierdie Jesus-wysheid van Jakobus nie! Ons kan mekaar werklik help om beter te wees. Maar dan moet ons die mense in ons lewens verwelkom wat ons kan help, en dan...


...dan moet ons maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie.

bottom of page