Só kan ons connect
top of page
  • Writer's pictureekerk

Só kan ons connect

deur Roedolf Botha


Sommige van die opmerkings wat ek gedurig hoor aangaande die 21-dae lockdown is dinge soos:


Wat gaan ek die hele tyd met my kinders aanvang by die huis?

Of:

Wat gaan ek en my man/vrou vir mekaar sê tydens die een- en twintig dae?


Mense maak grappies oor hoe man en vrou mekaar teen die mure gaan uitdryf in hierdie tyd. Videos word rondgestuur oor verveelde gesinne wat nie weet wat om met hulleself aan te vang nie. Hierdie humor is natuurlik nodig en ons almal het nodig om te kan lag vir onsself.


Dit kan egter ook ‘n kommerwekkende ding kommunikeer: ons weet nie meer hoe om diep te connect nie. Ons is so gewoond aan die min tyd wat ons gewoonlik vir mekaar het dat ons nie meer weet wat om te doen wanneer ons baie tyd het om saam te spandeer nie. Op vakansie hou die kinders hulleself gewoonlik besig met vriende. Of dikwels spring ons die ongemak van diep connection vry deur die tyd te vul met fisiese aktiwiteite. Ons vinnige alledaagse lewenstempo het ons egter skynbaar oppervlakkig gemaak in ons interaksie met mense na-aan ons. Baie van ons het afgeleer om mekaar diep in die oë te kyk en oor diep dinge te gesels.


Maar hoe nou gemaak? Covid 19 dwing ons om mekaar elke dag in die oë te kyk, dieselfde lug in te asem en onder dieselfde dak te verkeer vir drie weke lank.

Kom ons dink ‘n bietjie hieroor. Die mens verander en groei nie sonder kompleksiteit nie. So wys navorsing. Baie mense praat van groei en ontwikkeling en ontwikkel selfs programme vir ander mense se groei. Ervaring wys vir ons egter dat kopskuiwe by mense nie plaasvind sonder geweldige wilskrag aan die kant van die individu, of drastiese verandering in eksterne omstandighede nie. Op hierdie manier dwing Covid 19 ons om nuut te dink oor byna alles. Dit kan ons ook dwing om weer diep te connect. Connection behoort enige Jesus-volgeling se kos te wees!


Iemand het eenkeer gesê: devotion is attention. Liefde gee aandag. Liefde is nie haastig nie maar tree binne-in die ongemak en moeite van verhoudings. Mag ons aandag in hierdie tyd gefokus wees op God en op mekaar, nie die volgende ding wat ons moet doen nie. Mag ons in hierdie tyd leer dat ons identiteit en betekenis lê in die wees saam met mekaar en die Here en nie soseer in die doen nie. Doen is natuurlik ook belangrik, maar ons gebruik gewoonlik veels te vinnig dinge om te doen, om onsself weg te hou van die wees saam met mekaar. Ons doen dit nie doelbewus nie. Ons wil wel saam met mekaar wees. Terselfdertyd kan dit ons egter so awkward vind in mekaar se geselskap dat ons die intimiteit wat ons wil hê in dieselfde asem vermy.


Mag hierdie tyd ons leer om nie intimiteit te vermy deur net huislike besigheid te gesels nie, maar oor dinge wat werklik saak maak. Mag ons leer om met mekaar uitermate geduldig te wees. Mag ons leer om mekaar diep in die oë te kyk en te sê: besef jy dat ek vir hou ontsaglik lief is? Mag ons leer om nie ons kinders “besig te hou” nie om maar saam met hulle te sit en speel, boek te lees, onsself te vermaak met bord speletjies of sommer net lekker te gesels.


Diep connection is die vrugbare grond wat die Goeie Nuus van Jesus laat wortel skiet en groei in ons lewens.


Kom laat ons onsself vreesloos plant in hierdie grond!

bottom of page