• Siegfried Louw

Sywurms


Sywurms

“Nee, Pappa, ek soek meer van die kleiner blare,” beduie sy met haar wysvingertjie. Ek het self gereken dat die groter blare beter is, maar Wysvingertjie weet duidelik beter. Haar pa skud sy kop en begin eerder nader aan die takke se punte pluk.

“Hulle is sagter en sappiger vir die wurmpies,” verduidelik sy blinkoog vir my. Die kuiltjie in haar linkerwang duik op. “Hulle los heeltemal op in die kokon,” giggel sy.

“Ekskuus?” vra ek. Dit klink absoluut grillerig en ek het nog te onlangs Weet-bix geëet.

“Wanneer hulle in die kokonne is, word hulle papies. En dan motte. Maar terwyl hulle motte word, los hulle op. Hulle ingewande smelt,” verduidelik sy gruwelik. Die plooitjies op haar neus trek op ʼn knop saam, maar haar blink oë vertel dat sy opgewonde is oor die storie.

“So jou sywurms gaan papies word, wat beteken hulle los binnekant hulle doppie op, en dan kom ʼn nuwe gogga uit?”

Sy knik entoesiasties. Die boksterte wip op en af, asof hulle soos atletiek-dirigente ekstra woema aan die storie moet gee.

“ʼn Mot,” korrigeer sy my. Die pa maak oogkontak. “Kan ons Donderdag weer blare kom haal?”

“Natuurlik,” sê ek. “Julle weet mos nou waar die moerbeiboom is.” My woorde is by hom, maar my gedagtes is by die wurms, oplossende papies en motte.

Wie sy lewe wil behou, sal dit verloor.

Die koringkorrel moet sterf, sodat nuwe lewe kan opkom.

Metamorfose voel dus na doodgaan, besef ek. Ek los op. Ek verdwyn. Wat voorheen bekend was, is weg. Maar die nuwe hoofstuk is op pad.

Miskien het jy dit al gevoel. Die ervaring dat alles wat jy van jouself geweet het, verdwyn het. Dalk het hierdie jaar alles wat bekend is, vir jou laat oplos tot niks oorbly nie.

Ek weet dat Jesus die Vrydag gesterf het. Dat mense se drome soos ʼn Disprin weggesmelt het. Tot niks oorgebly het nie. Maar dat Hy op die Sondag weer opgestaan het. Nuut.

Die pa en sy dogter stap by die tuinhekkie uit.

“Ek het gekyk hoe hulle uitbroei,” smile sy toe sy in die motor klim. Twee tande is weg, maar dit is die mooiste glimlag. “Mamma sit hulle met ʼn koppiespeld op die blare.”

Ek waai toe hulle ry, boksterte al wippend in die motor.

Hergeboorte voel eers na doodgaan voordat dit voel na lewe. Vriendin en vriend wat hier lees – terwyl dit voel of jy verdwyn, of alles wat bekend is oplos en wegsmelt, onthou dat ons in die hande is van God, wat aan die ander kant van ʼn nuwe begin vir ons wag.

© 2020 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

logo snapscan.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: