Swerm
top of page

Swerm


Het jy al daardie eienaardige swerms spreeus gesien? Spreeus vorm soms spontane, vervormde swerms om hulle aanvallers te verwar. Dit is dan nie meer gewone swerms nie. Hierdie “murmurations of starlings” is asemrowend om te aanskou. Wetenskaplikes is steeds besig om die misterie van hierdie swerms te ontrafel.


Sonder dat die spreeus dit met mekaar kommunikeer, gebeur daar iets wat veroorsaak dat hulle soos ʼn spontane eenheid optree. Die swerm se vorm verander binne breukdele van ʼn sekonde. Dit gebeur aanhoudend. Hierdie vreemde, vloeiende vorms maak hulle vyande deurmekaar. ʼn Honger valk weet nie hoe om ʼn happie vleis uit die vreemde, veranderende eenheid te vang nie.


Ek bevind my hierdie jaar skielik weer in groter ruimtes waarbinne ek skares mense kan hoor murmureer. By skole, kerke, sale en sportareas is dit ʼn verandering om weer hordes mense bymekaar te hoor. Jy kan hoor hoe hulle mekaar opgewonde maak, opwerk, of bly maak oor iets wat gebeur. In die rye by Binnelandse Sake kan jy aan die mense se murmurerings hoor hoe lank hulle al moes wag. By die skool kan jy aan die kinders se gegons hoor of hulle hou van ʼn aankondiging of nie.


Dit is nie net in fisiese ruimtes waar mense mekaar met die trant van hulle woorde kan opwerk nie. Soms vat ʼn plasing op sosiale media vlam en dit kry ‘n beweging van sy eie. Mense wat gewoonlik stil en stemmig is en wat graag dink voordat hulle praat, ontaard gou-gou in frontlinievegters. Soos met ʼn “murmuration of starlings” sien ons mettertyd nie meer individue nie, maar skares wat saam vervorm teen een of ander vyand.


In Eksodus 15 en 16 loop Moses en Aäron ook deur onder skares wat murmureer: “En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer.” (Eks. 16:2 1933)


Die mense het mekaar daar in die woestyn opgewerk, want hulle het gereken dat God hulle nie mooi versorg nie. Hulle was blind vir die redding wat God besig was om te bewerkstellig.


Die “murmurations of starlings” laat my wel iets besef. God se kinders word ook genooi om so saam-saam ʼn eenheid te vorm. Ons verskil wel van die spreeus. Húlle maak ʼn “murmuration”, omdat daar ʼn vyand is. Maar Christene? Christene het ʼn dienende Hoof, wat sy lewe gee. Dit maak dat ons Hom spontaan volg, soos wat die lewe gebeur.


Romeine 15: 5, 6: Dit is God wat ons help om aan te hou glo en wat ons bemoedig. Ek bid dat Hy vir julle sal help om altyd gereed te wees om saam te werk met mekaar, dit is soos Christus Jesus dit wil hê. Dan sal julle almal dieselfde daaroor dink en saam vir God prys, Hy wat die Vader van ons Here Jesus Christus is. (Die Bybel vir Almal)

bottom of page