Strome van lewende water
top of page

Strome van lewende water


Strome van lewende water in aksie – dit was die voorreg, wat ek en Brink twee jaar gelede gehad het om te kon aanskou. Ons het saam met vriende die watertuine van die Kasteel van Annevoie in België besoek. Lieflike Franse, Italiaanse en Engelse areas is om verskillende fonteine, watervalletjies en kanale uitgelê. Dit is eintlik onmoontlik dat die water in hierdie 250 jaar oue saamgestelde tuine stagnant kan raak – die “lewende” water van die Rouillon-rivier voed elke fontein en watervalletjie met behulp van swaartekrag.


Dit herinner my aan Jesaja 58:11, wat my vanoggend bemoedig met die boodskap dat die Here my altyd lei, selfs in “dor” tye in my behoeftes voorsien en my sterk maak. “Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie.” – AFR83. Dit is juis wat Jesus belowe het, uitgeroep het op die laaste dag van die huttefees: “… Rivers of living water will brim and spill out of the depths of anyone who believes in me this way…”- John 7:37 MSG


Ek moet myself gereeld daaraan herinner dat hierdie lewende water, wat Jesus in my binneste gee, nie net vir myself (my eie gerief en genot) bedoel is nie. Dit moet ongehinderd deur my na ander om my vloei om weer op hulle beurt deur hierdie lewende water (Heilige Gees-water) verkwik te word. Die moeilikheid kom natuurlik, wanneer ek toelaat dat onbelyde sonde ‘n blokkasie in die fontein van my lewe veroorsaak. Hoe gouer ek enigiets, wat tussen my en die Here staan, bely en die Heilige Gees toelaat om ongehinderd deur my te vloei, hoe beter. Ek hoef nie te wag tot die aand voordat ek gaan slaap of selfs tot die volgende oggend, wanneer ek dalk stiltetyd hou nie. Nee, ek kan sommer daar waar die Here my deur Sy Gees bewus maak van ‘n spesifieke sonde, dit bely en opnuut weer die seën van hierdie stroom van lewende water ervaar.


My lewe moet egter nie net ‘n skoutuin, ‘n kompetisietuin, wees nie. Dit moet eerder soos die Annevoie-tuine ‘n plek wees, waar ander verkwik en aangemoedig kan word om self ook vir die eerste maal of by hernuwing in ‘n persoonlike verhouding met Jesus te gaan en self ‘n kanaal of fontein van Sy lewende water, Sy Heilige Gees-“water” te wees. So kan ons as ‘n gemeenskap van gelowiges ‘n saamgestelde watertuin wees, tot verkwikking van ander en tot eer van ons Here.

bottom of page