Stilte
top of page

Stilte



Geraas is ‘n doodnormale deel van die meeste van ons se lewe. Ons motorradio gaan sommer vanself aan, wanneer ons die motor aansluit. Boonop oorspoel TV’s, DVD’s, iPods en wat nog alles ons wêreld van vroeg tot laat met geraas, beelde en klank. Stilte maak ons eintlik bang. Ons verban dit die meeste van die tyd eenkant toe. Tog praat die Here dikwels in stilte. Hy skree nooit bokant ons mensgemaakte geraas uit om ons aandag te kry nie. Hy kompeteer ook nie met die geluide en prentjies, wat gedurig rondom ons koppe rondhang nie. Daarom moet ons doelbewus kies om eenkant tye met God te hê, as ons Hom reg wil hoor. Ons moet die klanke in en rondom ons behoorlik afgeskakel sodat ons die Here se stem kan herken.


Hunker jy na ‘n groter stilte in jou lewe? Gaan sit dan eenkant aan God se voete. Ontdek Hom van voor af in stilte. Soek Sy aangesig deur jou in nederigheid aan Hom te onderwerp. Dit sal jou lewe verander, want God se volheid, wat Hy alleen maar deur Sy Gees gee, sal jou lewe met innerlike vrede kom vul. Nog meer, dan sal Sy liefde ongesiens begin groei en gedy in jou hart, daardie liefde wat nooit ophou of opraak nie. Sy nimmereindigende liefde sal dan begin wen in die stilte van jou hart, maar ook in die geraas van die alledaagse lewe van elke dag.


Gebed:

Laat U stilte my ganse lewe aanraak, Gees van die Here. Amen

bottom of page