Sterker as die son
top of page

Sterker as die son


Lees Josua 10:12

“Hy is sterker as die son” - dis wat ‘n kindjie so ewe nou die dag tydens ‘n kinderdiens antwoord toe die leraar vir hulle vra wie is God in hulle oë is. Hoe reg is hy nie! God is oneindig sterker as die son. Vra maar vir Josua. Toe hy op ‘n dag teen die Amoriete geveg het, het God gewys dat Hy oneindig groter as die son is. Hy het die hele sonnestelsel daardie dag laat stilstaan (Josua 10:12). Sommer so, met een woord!


Josua het daardie dag so ‘n roemryke oorwinning behaal, want die magtigste Persoon in die ganse heelal was aan Sy kant. Die Gees van die Here het saamgeveg deur die sonnestelsel in trurat te rem. Hoe kon Josua dan ooit verloor? Hoe kon sy vyande wen? Toe hulle nog gedink het die donker gaan hulle insluk, het selfs die donkerte iewers in die lig gaan wegkruip. Die hemel se horlosie het daar en dan tot stilstand gekom. Tyd self het halt geroep, want God het Sy aandag op een klein spikkeltjie in die heelal daardie dag gefokus. Sy aandag was by sy kneg, Josua. Hy wou hom help. En Hy het ook. Deur Sy Gees se werk het Hy ingegryp, soos wat Hy vandag nog doen. Vertrou Hom net. Roep Hom aan en sien hoe God die hemele skeur bokant jou skeur.


Is dinge rondom jou donker? Wens jy dat God Sy son oor jou moet laat skyn? Wel, maak soos Josua: Vra Hom om dit te doen. Op Sy eie manier sal God jou gebede verhoor. Sy Gees sal tot jou redding verskyn. Hy sal jou nie alleen los in die midde van die stryd nie. Hy sal jou genadig wees.


Gebed:

Dankie dat U die son kan aansit en afsit. Dankie dat U die sterkste in die heelal is, drie-enige God. Amen.


bottom of page